Handelinge 2: 36-39
Petrus se preek raak die hoorders. Eers skrik hulle. Kyk hoe lyk die wêreld. ’n Onskuldige mens, Jesus, is doodgemaak. Het die magte van die wêreld dan gewen? Hulle vra: Wat moet ons doen? Dit verwoord hul verlange na iets anders. Dan kom hulle in beweging. Die Gees gee ’n nuwe wending aan hul lewens.
Wat moet ons doen? So vra ons steeds vandag. Ook ons skrik vir wat is – hoe die wêreld lyk en hoe ons lyk. Hoe afhanklik ons is van ander se opinies en bevestiging. Hoe hard ons onsself probeer bewys op allerlei maniere. Ook ons verlang na iets anders. Om te wees wie God ons bedoel het om te wees – om vry, sonder vrees en met vreugde te lewe. Hoe kom ons dan in beweging? Hoe gee die Gees ’n nuwe wending aan ons bestaan?
Die Deense filosoof en teoloog Søren Kierkegaard beskryf Christene, vervul van die Heilige Gees, besiel en entoesiasties (letterlik uit die Grieks en Theou, in God), as wilde ganse wat gereed was om te vlieg, Net toe hulle wou vertrek, sien hulle ’n paar mak ganse rondwaggel in hul saai, aardsgebonde bestaan. Kom vlieg saam, kom deel in die avontuur, nooi hulle. Die mak ganse is eers geïnteresseerd, maar word gou moeg en maak dit af as fantasie en dwaasheid. Dit laat die wilde ganse se entoesiasme kwyn en geleidelik word hulle self ook mak, aardsgebonde, toonbeeld van middelmatigheid.
Wat moet ons doen? Kierkegaard waarsku: Pasop! Moenie jou entoesiasme, jou in-God-wees, laat taan nie. Moenie op die grond bly waggel, getem tot ’n gemaksugtige, jammerlike bestaan nie. Jy is gemaak om te vlieg. Deur die bevrydende krag van die Gees kan jy jou vlerke sprei, gedra deur iets groters en sterkers as jouself. Die Gees vind ons daar waar ons is en nooi ons om saam te vlieg. Die Gees dwing nie, maar vra wel ’n antwoord: Kom jy of bly jy? Ploeter jy op die grond rond, of vlieg jy na nuwe horisonne? Dis jou keuse.
Prof Yolanda Dreyer, Emeritus