Psalm 46
By die Jan Smuts-huis in Centurion, aan die begin van die wandelpad, is ’n gedenkplek gebou. ’n Plek van stilte. ’n Plek vir meditasie. Met ’n dak, pilare en sitplek, die sykante oop na die mooi natuur. Op die gedenksteen die teks uit Psalm 46: Word stil en erken dat Ek God is. Laat jou besige brein bedaar en God in die prentjie kom, dat jy God se stem in die stilte kan hoor.
Die Psalm beskryf die onrustigheid van die menslike bestaan. Die natuur is onrustig. Waters woed en berge bewe. Mense is onstuimig en maak oorlog. Weerloos staan ons soms voor die krag van die natuur en mense. Die reëlmaat van die natuur, die seisoene wat kom en gaan, kan ons ’n valse gevoel van vastigheid gee. Nou is dit winter, dan kom die lente. Daarop kan ons reken. So kan ons ook veilig voel in ons eie gewoontes en roetine. Maar as die reëlmaat versteur word, verdwyn die gevoel van veiligheid. In die woorde van die Psalm: Berge (simbool van vastigheid) sink in die see, die waters (simbool van chaos) skuim. Waar is God wanneer ons nie veilig voel nie?
Bedaar en erken dat Ek God is (Ps 46: 11, AFR83), sê die Psalm in ons vertaling. Die teenoorgestelde van ’n lewe van konstante stryd teen die kragte en die dinge van mense, is stil wees in die krag van God – om die Gees van God te laat vloei deur jou. Die gevolg daarvan is herkenbaar in die vrug: liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid.
Die filosoof Immanuel Kant onderskei tussen emosie, die reaksie op eksterne gebeure, en passie, wat jou lewenstyl en leefwyse bepaal. As die Gees van God jou passie is en dit jou lewenstyl bepaal, sal die emosies in reaksie op die dinge wat gebeur, nie oorheers nie. Dan kan ons bedaar, stil wees, en erken dat God God is – groter as al die magte en kragte, ’n toevlugsoord in alle omstandighede. Geborgenheid. Vrede te midde van alles. Vreugde ten spyte van alles.
Prof Yolanda Dreyer, Emeritus