Matteus 1: 18-25

Soms dink ons dat die Heilige Gees eers bekend geraak het aan die mensdom ná die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Wanneer ons aandagtig lees, sal ons egter sien hoe dikwels daar in die Ou en Nuwe Testament van die werking van die Heilige Gees melding gemaak word terwyl ’n verhaal vertel word. So lees ons dikwels: Iemand vol van die Heilige Gees het dié of daardie ding gedoen. Die Heilige Gees was van altyd af die persoon van God wat teenwoordig was en dinge laat gebeur.

Josef probeer om te onderskei wat die regte ding sou wees om te doen. Sy voorneme is om te doen wat hy op daardie oomblik dink die beste is. Dan lees ons dat die engel van God aan hom verskyn met ander nuwe inligting. Die boodskap van die engel openbaar aan Josef dat die moeilike situasie eintlik totaal anders is as wat hy dink. Maria se swangerskap is nie as gevolg van ’n oortreding aan haar of hul kant nie. Dit is deur die inspeling van die Goddelike Hand dat hulle hulself in hierdie vreemde situasie bevind. Die Heilige Gees van God is die oorsprong van die swangerskap.

Dan gebeur die verrassende gebeurtenis. Josef se geloof blyk duidelik uit die feit dat hy onmiddellik op die verduideliking van die engel reageer en sy instruksies uitvoer. Hy besluit om die uitvoering van God se plan te eerbiedig deur nie met Maria omgang te hê voor Jesus se geboorte nie. Maria moet immers, volgens Jesaja se profesie, ’n maagd wees wanneer die Verlosser gebore word. En hy noem hom Jesus.

In ons wêreld moet ons dikwels ook keuses maak sonder om alles te verstaan of die vermoë te hê om alles te beheer. Sal die feit dat die Bybel ons verseker dat die Heilige Gees in en deur en om ons aan die werk is vir ons so belangrik wees dat ons bereid sal wees om dit raak te sien en te aanvaar en te doen wat God van ons verwag?

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb