Johannes 1: 29-34

Johannes maak dit duidelik dat sy oortuiging nie uit sy eie oordeel of insig spruit nie. Hy is maar net besig om te doen wat God vir hom gegee het om te doen. Hy roep mense op om hulle tot God te bekeer, en dan doop hy hulle op grond van hul bekering.

Maar met Jesus op die toneel is dit so anders. Mense se bekering is iets wat in ’n oomblik gebeur en dan ook maar net vir ’n oomblik duur. Mense se bekering is so dikwels eintlik maar net hul eie oortuiging wat na vore kom. Jesus het niks om Hom van te bekeer nie. Hy lewe in God en vanuit God, sy Hemelse Vader. Die oortuiging wat Hom dryf, is God se wil. Hy hou dit die hele tyd voor oë. Dit is waarskynlik waarom Johannes aanvanklik so huiwerig was om Jesus te doop. Hyself, Johannes, is één van dié wat so dikwels tot bekering moet kom. Dit is waarskynlik ook waarom hy in sy vertelling duidelik maak dat hy nie op eie insig staatgemaak het nie, maar net gereageer het op die versekering wat van God afgekom het.

Wanneer hy die Gees van God op Jesus sien neerdaal en bly, weet hy onmiddellik dit is Jesus, die Seun van God, wat voor hom staan. Omdat Johannes op God se stem ingestel was, is hy oortuig dat Jesus die Seun van God is. Van daardie oomblik af raak dit duidelik hoe die Heilige Gees in Jesus se lewe die rigting aangee en die dryfkrag word wat seker maak dat God se plan om die mensdom te verlos, enduit en presies uitgevoer word.

Hoe oop en oortuigbaar is u en ek terwyl ons elke dag doen wat ons doen? Pas ons aan by God se plan om sy koninkryk deur en in ons te laat kom? Of lewe ons met die idee dat God by ons planne moet inpas? Herken ons vir Jesus Christus as Hy in sekere situasies voor ons kom staan?

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb