Lukas 4: 14-30

Ons hoor weer hoe Jesus vol van die krag van die Gees dinge doen. Hy tree op in sy grootworddorp. Die mense ken Hom goed en hulle is duidelik trots op Hom. Vol afwagting oor wat Hy hier by sy eie mense gaan doen, word die boek Jesaja vir Hom aangegee om uit voor te lees en dit uit te lê. Maar die opgewondenheid gaan vinnig oor in frustrasie en minagting wanneer Hy dit durf waag om die Skrifgedeelte uit Jesaja op Homself toe te pas, en dan spesifiek in die verhouding tussen hulle en Homself. En dit raak buite beheer wanneer Hy hulle daarop wys dat hulle, voor wie Hy grootgeword het, en wat dink dat hulle Hom ken en eintlik besit, duidelik nie gereed is om die evangelie wat Hy in Hom dra, te ontvang nie.

Die situasie raak so warm en buite beheer dat hulle Hom uit die dorp en oor ’n afgrond wil dryf. Onthou, alles wat Jesus hier doen en sê, gebeur onder leiding en deur die krag van die Heilige Gees. Die reaksie van die inwoners van Nasaret bevestig eintlik net wat Jesus aan en oor hulle verkondig – hulle is nie gereed om Hom as die Verlosser te ontvang nie. Hul reaksie is duidelik ook nie onder leiding van die Heilige Gees nie. Dit is hul eie menslike oortuiging wat hulle so laat optree.

Hulle is oortuig dat hulle besig is om die regte ding te doen. Volgens hulle het Jesus nie die reg om die Gees van God vir Homself toe te eien en hulle buite die dampkring van God se genade te verklaar nie. Hulle glo dus dat hulle besig is om God se eer te verdedig en die Woord van God heilig te hou.

Hoeveel keer was ons nie ook al besig om vir God se saak te veg terwyl ons maar net besig is om onsself en ons eie eer te verdedig nie? Dalk is ons op die oomblik daarmee besig.

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb