Johannes 14: 15-17

Voordat Jesus in die hemel opgeneem word, maak Hy eers seker dat sy dissipels ’n paar goed verstaan. Een van die sake is dat liefde vir Jesus ook impliseer dat ’n mens gehoorsaam sal wees aan sy opdragte. Anders as wat die gelowiges tot dusver gedink het, gee God nie aan sy kinders opdragte en verwag dan dat hulle dit op eie stoom moet uitvoer nie. By verskeie geleenthede het Jesus saam met die opdragte wat Hy aan hulle opdra vir hulle die versekering gegee dat as hulle gehoorsaam wil wees, sal God ook aan hulle die vermoë gee om dit te kan doen. Hierdie vermoë is die Persoon, die Heilige Gees, wat deur Jesus gestuur word.

Volgens Johannes se Evangelie het Jesus dikwels sy volgelinge aangemoedig om in verhouding met Hom te lewe. Hy het hierdie verhouding vergelyk met sy eie verhouding met die Hemelse Vader. Dit is ’n verhouding wat gekenmerk word deur gehoorsaamheid, intimiteit en eensgesindheid. Nou moedig Hy hulle aan om in dieselfde verhouding met die Heilige Gees te lewe.

Gelowiges smag so dikwels daarna om God se nabyheid te belééf. Jesus verseker ons dat die Heilige Gees wel in ons is. Ons moet sensitief raak vir sy inspeling in alle situasies in ons lewens. As ons kies om alles met ’n wêreldse oog te bekyk, sal ons teleurgesteld raak. Hoe nader ons verhouding met die Gees is, hoe meer sal ons van sy teenwoordigheid bewus raak. God laat ons nie aan ons eie krag en vermoë oor nie. Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Joh 14: 25-26).

Die waarborg is die Heilige Gees. Lewe voluit in sy teenwoordigheid.

Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb