Romeine 12: 1-21
Die proses van metamorfose beskryf die lewensiklus van ’n vlinder vanaf wurm tot skoenlapper. Romeine 12 praat van gelowiges in terme van ’n proses van metamorfose. In vers 2 lees ons: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Die woord verander is in Grieks metamorpho wat die basis is van die woord metamorfose. Paulus sê hier dat wanneer dit kom by die uitleef van ’n mens se geloof, het ons een van twee keuses: óf ons kan gelyk word aan die sondige wêreld, óf ons kan ons deur God laat verander, ’n proses van metamorfose ondergaan, sodat ons volgens God se wil en riglyne kan lewe. Óf jy kan jou lewe lank ’n spreekwoordelike wurm bly, óf jy kan toelaat dat die Here jou deur ’n proses van verandering ’n skoenlapper maak. Dit wat jy kies, word gesien in die manier waarop jy leef – in jou gedrag en jou waardes.
Ongelukkig gebeur dit dat gelowiges baie keer kies om maar gelyk te word aan hierdie wêreld. Om wurms te bly wat nooit skoenlappers word nie. Dit is tog die (ge)maklikste opsie. Ons reken as almal rondom ons korrup en oneerlik is, kan ons ook maar so optree. Omdat ons uitgebuit word, buit ons ander ook uit. As ander die padreëls oortree, kan ek ook. Omdat almal iets doen, kan ek dit ook doen, al stem dit nie ooreen met my Christelike waardes nie.
Maar Romeine 12 sê dat wanneer ons verstaan wat God vir ons in Jesus Christus gedoen het, hoe groot sy genade en ontferming is, sal ons getrou bly aan ons Christelike waardes. Dan sal ons kies om nie gelyk te word aan die wêreld nie, maar om skoenlappers te word. Dan sal ons toelaat dat die Here elke dag deur die krag van sy Gees in ons werk. Dan word ons lewende en heilige offers in diens van God. Die keuse lê by jou: Gaan jy ’n wurm bly, of ’n skoenlapper word?
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege