Openbaring 3
Die boek Openbaring begin met boodskappe van Jesus aan die sewe gemeentes in Klein-Asië. Openbaring 3 bevat die boodskappe aan die laaste drie van die sewe gemeentes: Sardis, Filadelfia en Laodisea. Hoewel hierdie gemeentes redelik naby aan mekaar geleë was, het hulle uiteenlopende probleme en omstandighede beleef.
Die gemeente van Sardis se probleem was dat hulle geestelik dood was. Die gelowiges se beheptheid met die materiële en aardse het hul geestelike lewe laat verval. Christus roep die gemeente op om wakker te word uit hul geestelike insluimering. Indien die gemeente nie wakker word nie, sal Christus onverwags kom soos ’n dief in die nag. Die gemeente in Filadelfia is egter die teenoorgestelde van Sardis. Waar Sardis aan die slaap en geestelik dood is, is Filadelfia op en wakker. Hoewel hulle min en gering is, het Filadelfia steeds in die geloof volhard en Christus bely, ten spyte van vervolging. Daarom sal Christus, die Een wat die sleutel tot die koninkryk van God het, die deur na die koninkryk vir hulle oopmaak. Die laaste gemeente, Laodisea, was so selftevrede en selfvoldaan met hul materiële rykdom en voorspoed dat hulle gereken het daar is geen fout met hul geestelike lewe nie. Christus spreek hulle egter aan. Hy klop aan die deur, Hy wag vir ’n antwoord. Wanneer die inwoners van Laodisea tot bekering kom, sal hulle die deur vir die Here oopmaak en so deel in die oorwinningsfees.
In die drie gemeentes kry ons met drie deure te doen. By die gemeente van Sardis kom Jesus onverwags by die kerk se deur ingestap om sy geestelik dooie gemeente tot lewe te roep. By Filadelfia sluit Christus die deur tot die koninkryk vir gelowiges oop. By Laodisea staan Christus buite en klop sodat die gelowiges Hom kan binnenooi. Die gemeentes se omstandighede word ook in ons kerke en lewens weerspieël. Ons kan ook geestelik doodgaan, verblind word deur die wêreld se rykdom en voorspoed, en ons kan ook swaarkry vanweë ons geloof. Ook vir ons is daar drie deure. Die wyse waarop ons op hierdie deure antwoord, bepaal of ons gaan deel in die oorwinning.
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege