Filippense 2: 1-18

Elkeen vir homself en die duiwel vir die res. Dit is grotendeels die lewensbeskouing van die 21ste-eeuse mens. As jy bo wil uitkom, moet jy vir jouself sorg, want daar is nie tyd, geld of kapasiteit om oor ander besorg te wees nie. Paulus se boodskap in Filippense 2 keer egter die lewensbeskouing waarvolgens ons lewe – die filosofie van elkeen vir homself – heeltemal om. Die evangelie van Jesus Christus en die koninkryk van God werk immers heeltemal teenoorgesteld van die wêreld. Waar die sonde selfsug en verdeeldheid tot gevolg het, het die evangelie redding en harmonie tot gevolg. Dit word ten beste geïllustreer in die gesindheid wat daar in Jesus Christus was.

Christus, wat self ook God is, het mens geword om vir sondaars aan die kruis te sterf. Hy het Homself verneder deur ’n slaaf te word, ’n dienaar – Hy is God wat dien. Die woord wat in Filippense 2 vir Christus se menswording gebruik word, beteken om leeg te maak. Hierdie vernedering, leegwording, van Christus het tot in die dood gestrek. Hy maak Hom leeg van sy hemelse heerlikheid om ons te red deur sy dienende liefde. Op grond van Christus se voorbeeld word ons opgeroep tot dieselfde gesindheid.

’n Mens kry sulke armbandjies met die letters WWJD daarop. What would Jesus do? Om dieselfde gesindheid as Christus te hê, gaan oor lewende navolging van Christus. Dit is prakties. Dit is die bereidwilligheid om jouself ook leeg te maak van eiebelang en selfsug, van verdeeldheid en hovaardigheid. Dit is om harmonie en gemeenskap na te streef. Om dieselfde gesindheid as Christus te hê, vra dat ons daadwerklik ons lewe, ons tyd, ons geld, ons gesindheid sal gee, sal offer, sodat ons God en ander sal dien. Dan word ons geloof ’n offer in diens van God. Gee. Offer. Dien. Dit spel (toevallig) GOD.

Mag ons al hoe meer gee, offer en dien deur die troos van Christus, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, en die innige meegevoel en meelewing van God.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege