Sondag ná Sondag bely gelowiges hul geloof saam met die kerk van alle eeue, afwisselend tussen die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis van Nicea. Dit is ’n ruimte wat uitgekerf is in die liturgie om ons geloof as volgelinge van Jesus te verwoord. Maar hoeveel van ons het al nagedink oor die ontstaan van só ’n geloofsbelydenis of die konteks wat só ’n belydenis tersaaklik gemaak het?

Daar is etlike predikante wat met vernuf hul gemeentelede toerus in die kerklike tradisie en geskiedenis van ons Kerk (NHKA). Sulke onderrig kan natuurlik die meer ingewikkelde kerkorde insluit, maar wat van meer bekende elemente soos die geloofsbelydenis wat weekliks in die erediens ingevleg is? Die Geloofsbelydenis van Nicea kan vir enige gelowige as riglyn dien wanneer hulle die Evangelie met ander deel en gevra word: Wat glo jy?

Vanuit die herdenking van Nicea 1700 vloei die kongres getiteld Nadenke oor die Belydenis van Nicea wat vanaf 12 en 13 Augustus by Gemeente Pretoria-Oos plaasvind. Die Werkgemeenskap Historiese Teologie (SA) in samewerking met die Departement Sistematiese en Historiese Teologie van die Universiteit van Pretoria nooi jou uit om deel te vorm van dié herdenking met die konferensiefooi wat R600 per persoon beloop met verversings ingesluit. Kom luister saam na kundiges wat oor die ontstaan van dié geloofsbelydenis by die Konsilie van Nicea in die jaar 325 nC gesels.

Indien jy ’n oorsig van die geskiedenis van die Geloofsbelydenis van Nicea wil verkry voor die kongres begin, kan jy gerus na die feesdiens getiteld Ons glo! kyk wat deur prof Wim Dreyer gelei is.

Kliek hier vir prof Wim Dreyer se diens.

(Ds Iwana Hartmann is die NHKA-joernalis en predikant by Gemeente Pretoria-Oos)