Wakker Wessie van Wilgenhoutsdrif vra: Beste Oupa Stoep, ek is baie bekommerd oor een van my mede-ouderlinge. Hy dut gereeld in tydens die erediens en die snorkgeluide wat hy maak, word al hoe harder. Dink Oupa ek moet hom kort-kort in die ribbes pomp?
Beste Wessie, Oupa sal jou ten sterkste afraai om enige fisiese kontak met ’n sluimerende broeder langs jou in die ouderlingsbanke te maak. Dit kan vreemde dinge tot gevolg hê. So het dit een keer gebeur dat ’n slapende ouderling toe hy ’n stamp kry om hom wakker te maak, dawerend uitgeskreeu het: Hiert, jou maaifoedie! Dit het nogal afbreuk gedoen aan die stigtelikheid van die erediens…
Dis helaas ’n onwelkome simptoom van ouer word. Jy het ’n groter geneigdheid om die droomwêreld te betree al probeer jy jou bes om wakker te bly. En daar is geen waarborge wat gaan gebeur as jy wakker skrik nie.
So hoor Oupa van ’n formidabele ouderling wat beide kolporteur (dis die gemeentelike boekesmous) en kategesehoof in ’n buurgemeente was. Hy het bietjie ingedommel terwyl sy dominee ’n lang lys afkondigings hanteer het. Die dominee sê toe op ’n kol dat almal wat die volgende Sondag hul kindertjies ten dope wil hou, asseblief by oudl Van Niekerk moet aanmeld vir doopkategese. Die ingedommelde ouderling skrik by die aanhoor van sy naam wakker en dink toe dat die dominee praat oor bestellings vir die nuwe Liedboek, wat pas verskyn het en beskikbaar was in gewone of grootdrukformaat. Die deur-die-slaap-ouderling spring toe op en lig die voornemende doopouers in: Onthou asseblief, dis R150 vir ’n kleintjie en R200 vir ’n grote!