Handelinge 2: 37-47

Diegene wat deel is van ’n kerk (enige kerk), glo graag dat hulle die waarheid beet het, dat hulle die resep het vir kerkwees. Sommige buitestanders/teenstanders/ongelowiges/onverskilliges wat nie deel is van ’n kerk nie, wil weet waarom dit nodig is om aan die kerk te behoort. Waarom nie maar net aan ’n doodgewone, goeie organisasie behoort wat barmhartigheidswerk doen of, soos deesdae se terminologie dit noem, jou sosiale verantwoordelikheid nakom nie?

Wat is dit wat die kerk doen wat ons anders maak as ’n gewone sosiale vereniging? Vers 42 vat die wese van die kerk in ’n paar woorde saam. Daar staan: Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Hieruit kan ons vier hoofpunte haal, kom ons noem dit geloofshandelinge – dit wat daardie eerste gelowiges gedoen het, en hoe ons ook behoort te maak.

  • In die eerste plek het hulle hulle heelhartig toegelê op die leer (kerugma) van die apostels.
  • In die tweede plek het hulle hulle ook heelhartig toegelê op die onderlinge verbondenheid (koinonia).
  • In die derde plek het hulle ook heelhartig deelgeneem aan die gemeenskaplike maaltyd (diakonia).
  • Die laaste saak is die feit dat die gemeente hulle heelhartig toegelê het op gebed (leitourgia).

Hierdie vier sake is volgens ons teksgedeelte die belangrikste dinge wat in ’n gemeente gebeur. Hoe vaar ons as ons ons eie Kerk en gemeente aan hierdie geloofshandelinge meet? As die buitewêreld na jou gemeente kyk, sal hulle weet julle is deel van ’n kerk, of sal hulle net dink julle is ’n organisasie wat mooi en waardevolle dinge doen?

In die komende week gaan ons aan die hand van die Skriflesing individueel kyk na elk van die kenmerke van die kerk.

Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend