Handelinge 2: 37-47

Die verkondiging of oordrag van die woord – dit wat die apostels en ander in die gemeente gedoen het – noem ons die kerugma. Dit beteken doodeenvoudig dat hulle dit wat die apostels vir hulle geleer het oor Jesus, geglo het en dat hulle hulle voorgeneem het om alles te doen wat God van hulle gevra het. Hulle het getuig van dit wat hulle van Christus beleef het. Hulle het dit gaan oorvertel aan verskillende mense met verskillende persoonlikhede en verskillende kultuuragtergronde. Mense van alle ouderdomme, verskillende geslagte en uiteenlopende politieke oortuigings het almal dieselfde boodskap gehoor: God het vir Jesus wat gekruisig is, Here en Christus gemaak, en in Hom moet julle glo, want dit is Hy wat julle sondes vergewe!

Die belangrikheid van kerugma of verkondiging het selfs in argitektuur neerslag gevind. In die Roomse Kerk (vandag nog) staan die altaar waarop die mis bedien word, in die middel van die liturgiese ruimte, terwyl ’n preekstoel of kateder iewers aan die kant staan. Tydens die Reformasie is die altaar uitgegooi en die preekstoel na die middel van die kerk verskuif. Dit simboliseer dat die verkondiging van die Woord die middelpunt van die Christelike erediens is en nie dit wat met die altaar gedoen word – om die aksie van die mens (offers) voorop te stel – nie.

Die geloofsgemeenskap moet na binne en na buite getuig oor die evangelie van Jesus Christus. Na buite kom dit neer op dinge soos sendingwerk, getuienisse en jou geloof uitleef waar jy jou ook al bevind. Ons moet egter ook na binne getuig. Kom ons neem byvoorbeeld iets soos die kategese. Hoe kan verkondiging ter sprake kom in die kategese? Dis eintlik voor die hand liggend, want in die kategese vertel ons tog vir die kinders wat in die Bybel aangaan en wat God van ons vra.

Uiteindelik is my hele lewe ’n stuk getuienis. Hoe verkondig jy? Hoe getuig jy? Hoe leef jy?

Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend