Handelinge 2: 37-47; Efesiërs 6: 10-20
As ons ons gemeentewees, ons kerkwees, só gaan aanpak soos wat ons in die Skrifgedeelte gelees het, kan ek u waarborg, gaan u en ek elkeen God se teenwoordigheid by ons ervaar. Dit beteken nie dat God se teenwoordigheid by ons afhang van ons nie. Hy is in elk geval hier, partykeer kan ons Hom net nie raaksien nie, want daar is te veel ander dinge wat ons aandag aflei.
Partykeer maak die aanslae van die bose teen gelowiges ’n mens moedeloos. Ook in ons gemeentewees raak ons soms moedeloos. In Efesiërs 6 leer ons egter hoe om ook hierdie aanslae teen te werk as die wapenrusting van die gelowige vir ons beskryf word.
Die wonderlike uitkoms van leef soos wat ons die afgelope week gehoor het, is dat wanneer ’n gemeenskap van gelowiges ervaar hoe God by hulle is en dit begin uitleef, word die gemeente sigbaar ook na buite. Kyk wat het met Jerusalem se gemeente gebeur: Nadat hulle só begin leef het soos in ons Skriflesing beskryf is, het die gemeente begin groei en was die hele volk hulle goedgesind. Hul egtheid, hul intensiteit, hul entoesiasme, hul voorbeeld, het mense deur die genade van die Here by die gemeente gevoeg.
Hierdie gemeente het op ’n bepaalde manier begin leef omdat iets vooraf met hulle gebeur het: Hulle het besef dat Christus ook vir hulle gesterf en opgestaan het. Daarom kon hulle nie anders nie as om dit vir ander te gaan vertel; hulle kon nie anders nie as om aan mekaar te gaan doen soos wat hulle gesien het Christus doen met mense; hulle kon nie anders nie as om God te aanbid en tot sy eer te sing en te leef. Jerusalem het getuig, gesorg, gedien, gevier. Doen óns dit?
Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend