Handeling 9: 36-42
Tabita. Dorkas. Haar naam het bokooitjie beteken. In die 2020-vertaling van die Bybel lees ons sy is ’n vrouedissipel. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help (Hand 9: 36, AFR83). Tabita was besonder aktief in haar diens aan die behoeftiges. Ons kan amper die weduwees en ’n groot groep hartseer mense hoor wat snikkend daar rondstaan terwyl hulle vertel van al die mooi kledingstukke wat sy al vir hulle gemaak het. ’n Mens kan aflei dat sy een van daardie besondere mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis wat groot en belangrike mense baie keer nie kan regkry nie. Dit is juis waarmee ons dikwels sukkel.
In Tabita gee Lukas ons dus ’n model van Christelike omgee in ’n gemarginaliseerde gemeenskap. En haar vriende en diegene wat sy gehelp het, weet dit. Wat ons moet raaksien, is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita. Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm Hom en gee die lewe aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hul lewens mooi te maak. Die Here is nie net geïnteresseerd in die Paulusse, Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabitas en vele anonieme weldoeners in die wêreld en in die Bybel.
Dikwels dink ons dat dit net belangriker mense is wat ’n verskil kan maak in ander se lewens, want hulle het ’n groter invloed as wat ek het. Hulle kan meer regkry as ek. Ons vergeet dat dit dikwels die klein dingetjies in ons verhouding met ander mense is wat die verskil maak. Ons vergeet van vroue soos Tabita wat op haar eie manier mense se lewens aangeraak het. Mag ek en jy deur ons menswees en deur ons verhouding met ander ’n daadwerklike verskil maak in mense se lewens.
Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank