Romeine 10: 14-15
Seker een van die bekendste skrywers in die Nuwe Testament is Paulus. ’n Man wat ná sy bekering op pad na Damaskus sy hele lewe vir God gegee het. ’n Man wat tydens drie sendingreise gemeentes gestig het, mense na God toe gelei het en deur sy briewe gelowiges geleer het om in verhouding met God en mekaar te lewe.
In ons teks skryf hy vir die gemeente in Rome juis oor die dinge van geloof. Vir daardie mense, vir ons, sê Paulus se brief: Hoe kan jy God aanroep as jy nie in Hom glo nie? Eintlik vra Paulus: Hoe kan jy ’n gelowige mens wees as jy nie glo nie? Dan klim Paulus literêre trappe. Hoe kan jy glo as jy nie van Hom gehoor het nie? Ons hoor van God by ons ouers, in die skool dalk, en in die erediens, dalk ook by vriende. Maar ons vra ook self soms: Hoe gaan ons sorg dat mense tot aan die uithoeke van die aarde, God se stem hoor?
Paulus vra verder: En hoe kan julle van Hom hoor sonder iemand wat preek? Die kerk het baie funksies, maar Woordverkondiging staan sentraal. Paulus sê prediking is integraal deel van gelowig wees. Jy kan nie gelowige wees sonder om gereeld na die prediking van God se wil te luister nie. So, wat kan ons doen deur betrokke te raak? Ons kan begin preek … nie almal soos ’n dominee nie, maar deur ons dade, gesindhede en optrede. Elkeen van ons kán nie net nie, ons word deur God opgeroep om dit te doen. En God stuur ons om te preek. God stuur ons om lief te hê en deur ons dade te wys dat ons glo in die God wat werklik by en saam met ons is.
Wanneer mense dit begin doen, verander die wêreld. Die kerk, God se kerk, moet weer haar roeping van God hoor: Gaan na al die mense van die wêreld toe en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het.
Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank