Gemaskerde Gottlieb van Germiston skryf: Beste Oupa Stoep, ek dra nog baie getrou my masker as ek enigsins in die publiek is, maar ek sien meer en meer mense wie se neuse bo hul maskers uitsteek. Kan Oupa my help om te verstaan of dié manier van dra effektief kan wees teen die Corona-virus?
Beste Gottlieb, kom Oupa probeer jou vraag so antwoord: As ’n mamma besluit sy moet bespaar op haar baba se weggooidoeke en sy knip hulle middeldeur, en een keer dra Baba ’n doek voor en die ander keer een agter, dink jy Baba se kleertjies en sy beddegoed gaan skoon en rein bly? Natuurlik nie! Daar is mos twee uitlate en albei moet bedek word as die doek sy werk moet doen. Behalwe as jy ’n ernstige mediese toestand het, haal ’n mens asem in en uit deur sowel jou neus as jou mond, so hoe iemand kan dink dat hy beskerm word as net een asemhalingskanaal deur die masker bedek word, is iets wat Oupa glad nie kan verstaan nie.
Oupa het ’n bietjie op Google gaan rondkrap (toemaar, Oupa weet hoe gevaarlik dít kan wees!) en gekyk na wat instansies soos die Wêreldgesondheidsorganisasie en akademici by bekende universiteite te sê het. Die eerste punt wat uitstaan, is dat die navorsing nou bewys dat Covid nie net versprei word deur druppeltjies wat so groot is dat as iemand hulle uitnies of uitasem, hulle baie gou grond toe val nie. Die druppeltjies kan baie kleiner wees as wat aanvanklik gedink is en kan ’n lang tyd in die lug rondhang, die sogenaamde aerosol-effek wat ’n mens byvoorbeeld ook kry as jy ’n lugverfrisser in die lug spuit. Of jy deur jou neus of deur jou mond asemhaal, jy kan die virus so vir ’n langerige tyd deur die lug inkry, of versprei, sou jy ’n draer wees.
Navorsing wys ook dat mense ’n minimum van 60% van die tyd deur hul neuse asemhaal eerder as deur hul monde. As jou masker net oor jou mond is, het jy dus maksimum 40% beskerming. Oupa weet nie van jou nie, Gottlieb, maar hy voel baie meer veilig as hy ’n hele veiligheidsgordel aanhet en nie net 40% van een nie…
Oupa hoor ook mense sê dat hulle hul neuse moet oophou omdat hulle te veel koolstofdioksied gaan inasem as hulle die masker oor mond en neus het. Daar is geen bewyse dat die dra van ’n masker hipoksie, wat laer suurstofvlakke in die liggaam is, kan veroorsaak nie. As dit so was, sou daar omtrent nie meer een hartspesialis of ortopediese chirurg meer met ons gewees het nie. Hulle dra soms vir agt ure of langer ’n masker terwyl hulle opereer, en nie net ’n lapmaskertjie soos die blou maskers wat oral gedra word nie. Hulle dra ’n N95-masker wat baie digter en meer noupassend is as die maskers wat ons dra. Hul breine het ook hul volle suurstoflading nodig, want die dokters moet voluit kan konsentreer terwyl hulle opereer. As dit so was dat ’n masker jou siek maak as gevolg van die koolstofdioksied wat dit jou laat inasem, sou die geneeshere mos heeltyd besig gewees het net om hulself te genees!
Uiteindelik, Gottlieb, is die dra van jou masker oor jou mond en neus vir Oupa nie net prakties nie, dis ook ’n geloofsaak. Dis deel van ons Christelike verantwoordelikheid om ons eie gesondheid en liggaamlike welsyn na die beste van ons vermoë op te pas. Dit is ook deel van naasteliefde om alles in jou vermoë te doen om nie die oorsaak te wees dat jou halfmas-masker veroorsaak dat jy iemand anders aansteek met die virus nie. Dit kan baie maklik gebeur as jy nog geen simptome het nie terwyl jy reeds ’n draer en verspreider van die virus kan wees.
So, liewe Gottlieb, hou asseblief aan om jou masker behoorlik oor neus en mond te dra. Jy en Oupa is dan darem twee mense wat dit doen!