1 Korintiërs 12: 12-32

Paulus reageer op die selfgesentreerdheid van sekere Christene deur vir hulle op die nuutmakende werk van die Heilige Gees te wys. Die Heilige Gees spesialiseer daarin om liggame van voor af aanmekaar te sit, liggame wat uitmekaar geskeur is omdat individuele mense in die kerk so graag wou hê dat die klem op hulle moet val. Die Heilige Gees bou liggame op deur gawes aan elkeen van ons te gee. Hierdie genadegawes op Paulus se lys sluit onder andere die sogenaamde buitengewone dinge in, soos die doen van wonders en genesings, asook gewone dinge, soos dienslewering en hulpverlening. Die Heilige Gees deel deurentyd dié gawes aan sy kinders uit wat ons binne ons eie situasies nodig het om die fokus op God en ander te laat val. Mense kan gou-gou vergeet dat die Gees gawes aan hulle gee om God en ander mee te dien. In vers 13 maak Paulus ’n baie belangrike stelling oor die Gees, naamlik dat ons almal met die één Gees gedoop is. Die Heilige Gees is aan die ganse kerk gegee. Hy verbind my aan almal wat saam met my in Christus glo. Hy open my oë om ander gelowiges rondom my te begin raaksien, om hul gevoelens en behoeftes in ag te neem, hulle te bemoedig en vir hulle te bid.

Paulus beklemtoon dat ’n mens nie selfgerig moet wees en die fokus op jouself laat val nie. Hierdie besondere teksgedeelte wil ons oortuig dat die Heilige Gees ons lei om ander gelowiges raak te sien. Hy woon immers in ons almal se lewens en wil hê dat ons almal saam ’n gesonde en lewenskragtige liggaam moet wees waar die verskillende ledemate in harmonie met mekaar leef en vir mekaar omgee. Kom ons laat die Gees toe in hierdie tyd waarin daar nuwe eise aan die kerk gestel word om ons te gebruik tot die bevordering van sy koninkryk. Soos vers 31 sê: Lê julle toe op die beste genadegawes, ook in jou spesifieke geloofsgemeenskap.

Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank