Romeine 12: 9-13
Wat is ’n ware geloofsgemeenskap? Ons lees aan die einde van die Nagmaalformulier dat die gemeenskap van gelowiges sigbaar word wanneer ons van die brood eet en die wyn drink. Dit beeld simbolies uit dat ons elkeen deel het aan die brood en wyn, en so ook aan Jesus. Die liefde wat God aan ons geskenk het deur sy Seun, bind ons aan mekaar. Voor ons by die tafel aansit, moet ons onsself eers ondersoek en afvra of ons bereid is om deur ons doen en late hierdie band van liefde te versterk. Met ander woorde, is ons bereid om daardie liefde te gaan uitlewe?
In Johannes 13: 34-35 word hierdie liefde aan ons verduidelik: Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is. Wanneer ons as Christene mekaar op so ’n radikale manier lief kan hê, met God in ons gedagtes, kan ons nie anders nie as om mekaar onvoorwaardelik lief te hê. En dit is hoe ons die wêreld verander, want hulle staan terug in verwondering. Hulle kan nie begryp wat tussen die gemeenskap van gelowiges gebeur nie, hulle wonder, wat is dit wat hierdie mense anders doen? Wat is dit wat maak dat hulle op so ’n diep vlak vir mekaar kan omgee? En wanneer hulle lank en diep genoeg kyk, sal hulle God se liefde raaksien.
Mag ons ons as geloofsgemeenskap daaraan toewy om altyd eg teenoor mekaar wees, terwyl ons in die ware behoeftes van ander voorsien sonder enige eie gewin of agenda, en mag ons altyd vashou aan en ons verbly oor Jesus se groot verlossingsdade. Mag ons waarlik in Jesus se spore volg, mekaar vergewe en liefhê soos Christus ons vergewe en lief het.
Ds Markus Pretorius, Weltevreden