1 Timoteus 2: 1-7

Gister het ons gekyk na die doel van ’n geloofsgemeenskap, maar soos met alle dinge, is daar maar reëls om orde te handhaaf. Paulus verduidelik aan Timoteus wat die doel van ’n gemeente behels, ook hoe elke gemeente haar as gemeente van God moet gedra. Verder in hoofstuk 2 bespreek hy die gedrag van mans en vroue, hy gee voorskrifte vir ouderlinge en diakens, en bespreek die optrede van lidmate en die voorgangers van elke gemeente.

Ons moet daarteen waak dat ’n gemeente ontaard in ’n lekker kuierplek soos by ’n sosiale klub. Ons moet die samekoms van gelowiges steeds ordelik en doelgerig hou met net een doel: om die Here te dien. Hierdie voorskrifte wat Paulus gee, is daarop gemik dat die gemeente aan sy doel kan beantwoord. ’n Gemeentelid gaan byvoorbeeld erediens toe, nie om iets daaruit te kry nie, maar eerder om iets terug te gee. Ons moet ons lewens en ons liggame as lewende offers aan God gee. So, wat is dit wat ek na my gemeente kan neem? Ons lofprysing, ons offerhande en ons gebede.

Gebed is sekerlik die belangrikste offer wat ons aan mekaar kan gee. Gebede vir almal. Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om sondaars te verlos. En vir almal – sondaars – moet die kerk, moet die gemeente bid. Ons het ’n groot verantwoordelikheid om vir mekaar te bid. Vir dié in belangrike posisies en vir dié wat in minder belangrike posisies is. Ons moet bid vir die goeies en die slegtes, vir Christengelowiges en vir ongelowiges. Niemand is vrygespreek van gebed nie; almal word oor God se kam van liefde geskeer, want alle mense is sondaars en moet verlos word. En so ’n offerande vind plaas in ’n ruimte van orde en doelgerigtheid.

Ds Markus Pretorius, Weltevreden