Filippense 2: 1-11
Die eie ek is ’n groot siekte in die mensdom van vandag se leefwyse. Dit maak dat ’n mens nie meer omgee vir ander mense se belange en behoeftes nie. Alles moet tot my eie voordeel en belang wees, en dit pla my nie meer as iemand uitgebuit word nie. Dit is om jou los te maak van ander se belange en net vir jouself te leef. Maar wat word van gelowiges verwag? Om deel van ’n geloofsgemeenskap te wees, beteken dat ek na die belange van ander, my medemens, my huweliksmaat, almal om my wat vir my kosbaar is, wat deel van my geloofsgemeenskap is, sal omsien. Ons staan immers aanspreeklik vir mekaar voor God. Ons moet mekaar se belange op die hart dra.
En ’n groot belang vir almal is die verlossing; ons moet veral bekommerd wees oor mekaar se verlossing. Dit is naasteliefde. Paulus sê: Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was (Fil 2: 4-5). Maar beteken dit dan nou dat ek my eie belange moet afskeep? Allermins, ’n Christen moet sy eie belange na die beste van sy vermoë behartig en bevorder. Dit impliseer Paulus dus ook met die woorde: Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie. Dit is nodig om ook na ons eie belange te kyk. Jy moet tog jou naaste liefhê soos jouself en nie liewer as jouself nie. Ek moet net nie so vasgevang word in my eie belange dat ek vergeet van dié om my se belange nie.
Ons moet so die belange van ander op die hart dra dat ons almal as volwaardige mense voor God sal lewe. Maar dit sal ons nie uit eie krag regkry nie. Daarom het ons Christus en mekaar nodig, om saam voor God te lewe na God se wil.
Ds Markus Pretorius, Weltevreden