Johannes 15: 1-8; Galasiërs 5: 13-26
Ons raak soms so maklik jaloers op mekaar, en die gawes van die Gees is iets wat soms verdeeldheid onder gelowiges kan veroorsaak. Dit is ook iets wat misbruik word om geloof te bepaal. Die aan- of afwesigheid van gawes word dan ook soms gelykgestel aan die aan- of afwesigheid van geloof – dink maar aan die gawe om in tale te kan spreek. God het aan elkeen van ons verskillende gawes gegee om tot voordeel van ons geloofsgemeenskap te wees. Ons het mekaar se gawes nodig. Ons moenie jaloers op mekaar se gawes wees nie, maar ons moet ons eie gawes ontdek en aanwend tot uitbouing van God se koninkryk.
As geloofsgemeenskap moet ons eerder fokus op die vrug van die Gees tussen ons. Gawes verskil van persoon tot persoon. Maar met die vrug van die Gees is dit anders. ’n Mens lees in die Bybel oor een en dieselfde vrug by almal. Dit groei by elkeen in wie die Gees woon en werk. By almal wat glo, bemerk ons een en dieselfde vrug. Juis daarom moet ons as gelowiges besef dat die opdrag in Johannes om vrug te dra, nie opsioneel is nie. Maar hoe dra ons die vrugte van die Gees?
Eerstens moet ons besef dat God ons deur die Heilige Gees in staat stel om vrug te dra, dit kom nie uit onsself nie. Verder moet ons in Jesus bly, en ons moet toelaat dat sy Woord in ons bly. Met ander woorde, ons moet ’n aktiewe verhouding met Jesus hê terwyl ons God se Woord dag en nag moet oordink, tot so ’n mate dat dit ons harte en gedagtes beheer. Om ’n ware geloofsgemeenskap te wees, moet ons die gawes wat God aan ons gegee het, gebruik om almal te lei na so ’n verhouding. Ons het mekaar nodig, en nie jaloesie teenoor mekaar nie.
Ds Markus Pretorius, Weltevreden