Hebreërs 10: 19-25

Daar is baie verskonings oor hoekom ons nie kan of hoef kerk toe te gaan nie, maar een van die algemeenstes: Ek gaan nie meer kerk toe nie, want daar is mense in die kerk wat my te na gekom het. Ek en my gesin dien die Here nou by die huis. Dit is goed dat u die Here by die huis dien. Dit moet ons almal doen. Die groot vraag is egter: Wil die Here hê dat ons Hom net by die huis dien? Die antwoord is natuurlik nee. As ons elkeen die Here op ons eie dien, is daar nie meer ’n gemeenskap nie.

Op baie plekke in die Bybel gee die Here vir ons die regte antwoord. So lees ons byvoorbeeld in Hebreërs 10: 25: Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie. Gelowiges mag nie van die gemeente se samekomste wegbly nie – dit is ’n opdrag van die Here. 1 Korintiërs 12: 27 leer dat die gemeente ’n eenheid is – daarom mag een lid nie los van die res lewe nie, want al die lede saam vorm die een liggaam van Christus. In Romeine 10: 14-17 lees ons: En hoe kan jy [die gemeente] van Hom hoor sonder iemand wat preek? Daarvoor het die Here verkondigers van sý woord aan sý kerk gegee. En wat van die Nagmaal? Die Here het ons beveel om die Nagmaal te gebruik. Ons het juis gelees dat die gemeenskap met Jesus en met mekaar sigbaar word aan die Nagmaaltafel.

Om bymekaar te kom, is nie ’n opsie of keuse nie, maar ’n opdrag van God self. Ons maak ons skuldig aan ongehoorsaamheid/sonde as ons verskonings soek om nie die erediens by te woon nie. In die erediens wil die Drie-enige God sy gemeente ontmoet en deur die verkondiging van sy Woord hulle versterk – bywoning mag dus nooit ’n opsie word nie.

Ds Markus Pretorius, Weltevreden