1 Korintiërs 11: 12-22

Die Nagmaalbyeenkomste is veronderstel om gewyde byeenkomste te wees, geleenthede waar almal met hul andersheid in hul geloof versterk word; dit het ten doel om die onderlinge samehorigheid en eenheid terselfdertyd op te bou. Vanweë die uiterste ellende waarin die arm gelowiges in die gemeente gelewe het, was die idee dat hulle by dié geleentheid van ’n behoorlike bord kos voorsien sou word.

Maar dit was nie wat by die Korintiërs se Nagmaageleenthede plaasgevind het nie. Die eerste ding is dat hulle die atmosfeer bederf het deur te staan en stry oor onbenullige geloofsverskille. Die tweede ding is dat die hoogmoedige rykes vergeet het dat dit ’n heilige oomblik moes wees waar die gemeenskap van gelowiges sigbaar moes word. Hulle het die armes met minagting behandel en niks van hul oordadige skottels kos met die armes gedeel nie.

In ’n poging om Nagmaalbyeenkomste aan die doel te laat beantwoord, herinner Paulus hulle aan Jesus se oorspronklike doel daarmee. Hulle kan dus begin fokus op die pyn en lyding waardeur Jesus moes gaan om die verhouding van mense met die Here God te herstel. Daarvan is daar geen teken in hul optrede teenoor mekaar nie; inteendeel, hulle vertrap en verneder mekaar. Die byeenkoms is nie meer heilig nie. Dit gaan oor die mens en nie meer oor God nie.

Ons weet van beter, maar tog sukkel ons om ’n heilige ruimte te skep waar die geloofsgemeenskap sigbaar kan word en die ware doel van die samekoms bewerkstellig kan word. Ons moet groei in geloof, ons moet mekaar aanmoedig en mekaar liefhê. As ons bymekaar kom, moet God die middelpunt wees. Ons kom om Hom te dien, te loof en te eer, nie ander of onsself nie.

Ds Markus Pretorius, Weltevreden