Matteus 18: 21-35

Ek en jy hou nie daarvan as iemand ons op ons foute wys nie. Ek en jy hou nie daarvan om te erken dat ons mense deur ons optrede in die steek gelaat het nie. En om vergifnis te vra, is moeilik en vernederend. Om iemand te vergewe, is net só, indien nie meer nie, van ’n uitdaging. Maar vergifnis herstel verhoudinge – dit help ons om van die woede en die bitterheid ontslae te raak. Vergifnis bring herstel en heling, maar dit is regtig moeilik om te gee of te ontvang.

Terwyl Jesus praat oor die genade wat God gebruik om ons te herstel en heel te maak, wonder Petrus hardop oor hoe ver ons vergifnis moet strek. Petrus vra die vraag wat ons almal al gevra het: Hoe ver moet my vergifnis strek? Waar stop ek as iemand my vrygewigheid misbruik of nie leer uit hul foute of nie herstel word nie? Petrus reken dat sewe keer genoeg is – dis mos eintlik baie vrygewig! Jesus bedoel nie dat jy nou moet register hou van al die kere dat jy al vergewe het nie. Jesus wil beklemtoon: Vergifnis behoort ’n diep bron te wees wat nooit opdroog nie.

Jesus vertel ’n storie. Die skuldeiser kon die man en sy familie verkoop het as slawe en so geld teruggekry het, of hy kon die persoon in die tronk gooi en loskoopgeld van sy familie eis. So ’n man staan voor die koning en smeek om genade. Die koning se motiewe vir sy deernis is nie duidelik nie, maar hy help die arme man. Die man is vrygespreek en kan ’n nuwe begin maak. Maar die oomblik toe hy vry is en sy rol van skuldenaar na skuldeiser verander, is hy ongenaakbaar.

Vergifnis bring genesing. Al verander dit nie die situasie of die ander persoon nie, sal vergifnis jou bevry en losmaak om aan te beweeg. Vergewe en word vergewe met die grasie en die deernis wat pas by ’n kind van God.

Ds Heloïse Herbst, Rietvallei