Sagaria 9: 9-12

In Sagaria 9 kom die koning nederig en op die rug van ’n donkie as oorwinnaar na die volk toe. Die koning kies spesifiek vir die donkie. Hierdie koning kies teen die mag van die perd, strydwa, pyl en boog. Hy is ’n vredeskoning. Hy verbreek die ellende van oorlog, en bring ’n regering van vrede wat vir die wêreld groot seën inhou. Hy is vir vrede. Dit was vir Sagaria, Jesaja en al die profete van die ballingskaptyd onmoontlik om te kon insien wat die koms van die Vredeskoning regtig sou inhou en beteken. Om vorentoe te kyk en te probeer voorspel, gee dalk vir jou so ’n vae idee, maar dis met die terugkyk oor die gebeure dat ’n mens die duidelikste begryp.

Wanneer Jesus dan op ’n donkie in Jerusalem inry teenoor die vertoon van perde en militêre mag wat aan die ander kant van die stad ’n optog gehou het, kom die ware betekenis van Vredeskoning eers na vore. Dan kan ’n mens sien dat God ’n Hemelkoning en ’n ewige koninkryk bedoel en nie ’n tipiese aardse koning op die troon in Jerusalem nie.

Wat sien ek as ek omdraai en terugkyk? Dalk kronkels en draaie, dalk bitter oomblikke en moeilike besluite. Wat sien jy as omdraai en terugkyk? Maar sien jy ook die Here se beskikking in jou lewe, sy hand oor jou, sy liefdevolle wil wat geskied? Dis die sin wat die Bybel ons hier leer. As ons van die Nuwe Testament terugkyk na Sagaria 9, sien ons hoe God sy wil laat gebeur op ’n verrassende en onverwagse manier – altyd in liefde ter wille van mense. As ek terugkyk oor my eie lewe, kry ek dieselfde indruk en insig – die goue draad van God se liefde en vergifnis wat my hoop gee vir die toekoms.

Ds Heloïse Herbst, Rietvallei