1 Petrus 1: 3-5
Op ’n foto in ’n koerant sien ek ’n tyd gelede ’n merkwaardige gesig. Op die agtergrond sien ’n mens ’n ruïne. Russiese tenks het ’n klein dorpie in Tsjetsjnië feitlik heeltemal verwoes. Op die voorgrond stap daar egter ’n sewejarige seuntjie en dogtertjie vir die eerste keer skool toe. Hand aan hand stap die tweetjies daar, terwyl die dogtertjie ook nog ’n bos pragtige pienk blomme styf in haar regterhandjie vashou. ’n Skreiender kontras kan ’n mens jou beswaarlik voorstel: Aan die een kant die gebombardeerde buurt – tekenend van ons wêreld vol geweld. Aan die ander kant hierdie twee kinders – ’n aangrypende simbool van die lewe, van nuwe hoop vir die toekoms.
Ons het op hierdie oomblik ook in Suid-Afrika ’n dringende behoefte aan hoop. Daar is genoeg tekens van ruïnes rondom ons om ons raadop te maak, genoeg puinhope om ons oor te gee aan wanhoop. Daar is genoeg hartseer verhale van mense wie se lewens verwoes is, stukkend gebreek deur lyding. In so ’n wêreld besin ons saam met die kerk hierdie tyd van die jaar oor God ons Skepper en ook Herskepper. In so ’n tyd hoor ons die goeie nuus van die evangelie teenoor en ten spyte van die slegte nuus van die wêreld waarin ons lewe. Dis ’n goeie tyding, ’n blye boodskap vanaf die onwaarskynlikste plek op aarde, naamlik ’n graf, maar dan ’n leë graf.
Die apostel Petrus se vreugdesuitroep: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop … (1 Pet 1: 3). Hierdie hoop is lewend omdat Christus lewend is. Hierdie Christelike hoop is egter op geen manier die vrug van ons geloof of godsdienstigheid nie. Ons kan dit nie self skep nie. Dit is ook nie die gevolg van positiewe denke nie. Nee, dis ’n gawe van God wat Hy telkens weer aan ons skenk.
Gebed
Dankie, Here, dat U ons hoop is in ’n hopelose wêreld. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort