Vanjaar het die NHKA die geleentheid aangegryp om tydens die Intergeloofsweek van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria ons besondere getuienis te lewer.
Dié projek skep jaarliks ’n ruimte waar studente en volgelinge van uiteenlopende gelowe bymekaarkom om hul geloofsoortuigings met die studentegemeenskap te deel. Die projek wil bydra tot ’n vreedsamer en meer tegemoetkomende samelewing. Die samelewing op ’n globale skaal en die rol van verskillende godsdienste daarin was juis die tema van Intergeloofsweek 2025 wat van 4 tot 7 Augustus by UP plaasgevind het. Dié leerproses word reeds die afgelope drie jaar aangepak en het gelei tot groter begrip en beter onderlinge verhoudings tussen diverse godsdienste. Die kernoogmerk van die projek is eendrag binne diversiteit – eendrag wat ’n veilige ruimte skep vir mense, al verskil hul geloof.
Met haar teenwoordigheid kon die NHKA haar droom beklemtoon, naamlik dat alle mense in Jesus Christus sal glo as hoop vir die wêreld. Ons Kerk het, soos die NG Kerk, een maaltyd vir die teologiestudente tydens die Intergeloofsweek geborg. Ons het ook deelgeneem aan ’n Living Museums-uitstalling, waartydens die verskillende godsdienste as lewende museums kon funksioneer. Mense kon dus as’t ware by verskillende godsdienste besoek aflê, en beleef hoe almal hul geloof prakties uitleef. Die NHKA het saamgewerk met die groep kerke wat bekendstaan as Oppistoep. Hierdie groep kerke sluit verskillende gemeentes in Hatfield in. Ons stalletjie is deur die studente van Gemeente Philadelphia beman.
(Ds Iwana Hartmann is die NHKA-joernalis en leraar in Gemeente Pretoria-Oos)
