Psalm 19: 8

Baie van ons het al die ervaring gehad terwyl ons bestuur dat iemand in die passasiersitplek skielik uitroep: Pasop! net voordat iets gevaarliks of onverwags gebeur. Gewoonlik nadat ons geskrik het, bedank ons die persoon, want hy of sy het moontlik ’n ongeluk vermy.

Dit is juis hoe die antieke Israeliete aan die wet gedink het. Dit was ’n waarskuwing om al die slaggate van die lewe te vermy. Deur gelowiges te leer wat sonde is, kon hulle ’n veilige pad deur die lewe baan.

Maar watter een van die 613 wette in die Ou Testament gaan ons volg? Tradisioneel word die 613 wette dan verdeel in drie vorme: siviele wette (byvoorbeeld die wette oor die aankoop van Hebreeuse slawe in Eks 20); seremoniële wette (die talle wette oor kultiese onreinheid in die Ou Testament); en dan die morele wet (die tien gebooie). Die siviele wette is nie meer van toepassing nie, want Antieke Israel bestaan nie meer nie. Die seremoniële wette is nie van toepassing op gelowiges nie, want dit is vervolmaak in Christus (Matt 5: 17). Die morele wette is die wet wat nog vandag vir ons as gelowiges geldend is – wat ’n lamp en ’n lig is op ons pad (Ps 119: 105).

Dit is juis hierdie morele wet wat die Here Jesus opsom in Matteus 22: 37-39: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand … en jou naaste liefhê soos jouself. Hierdie twee gebooie vorm die sperstrepe wat die pad van die Here afbaken. Wanneer ons binne hierdie sperstrepe bly, ontvang ons uit die Woord die lewe. Dit maak dat ons lewens floreer, want ons is op die pad van die Here, en op die Here se pad is daar genoeg aftrekplek en veilige hawens waar ons kan rus. Op hierdie maniere is die wet, die lewegewende Woord, ontvang uit die mond van die lewende Woord.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico