Die stadsraad van Pretoria het gedurende die 1950’s aan die NHSV 16 erwe in Danville geskenk. Twee ouetehuise is vir dié erwe beplan: Van Rensburg Monumenttehuis wat vir 75 verswakte bejaardes en demensielyers voorsiening sou maak, en Louis Trichardt Monumenttehuis wat aan 75 bejaardes wat selfversorgend was, verblyf sou kon voorsien.

Die ontwerp van die tehuise is gedoen deur mnr Bosman van Neethling en Bosman Argitekte, met ’n beraamde boukoste van £75,000.00 met fondse wat met ’n staatslening verkry is. Die Nederduitsch Hervormde Weeshuisbouers begin in September 1956 met die bouwerk en die hoeksteenlegging van Louis Trichardt Monumenttehuis vind plaas in 1957 tydens die NHSV se Nasionale Kongres.

In 1958 trek die eerste inwoners in by Louis Trichardt, en hierdie Monumenttehuis word in November 1958 amptelik geopen. Met net ’n straat wat die twee tehuise van mekaar skei, vind Van Rensburg-tehuis se gedenksteenlegging ook in November 1958 plaas, met die amptelike opening op 7 November 1959.

Waglyste raak langer, en vanaf 1975 word Van Rensburg Monumenttehuis opgeknap om dubbelkamers in enkelkamers te omskep en sonkamers aan te bou. Die versorging is vermeerder om 113 verswakte bejaardes te kan versorg.

Ná die Covid-pandemie neem die getal inwoners af by beide tehuise en bly die getalle kommerwekkend laag, gesien in die lig van volhoubaarheid van dienslewering en instandhouding. Navrae word ook ontvang van maatskappye wat studentebehuising in die Danville-area ontwikkel. Die Ons Tuis-direksie neem die moeilike besluit om die twee tehuise in die mark te plaas vir verkope. Beperkings op die aktes maak egter slegs voorsiening om die eiendom te verkoop aan ontwikkelaars vir tehuise.

Aansoek word gedoen om die beperkende voorwaardes te lig, en wysigings van die aktes word geregistreer in Februarie 2025. Die aanbod om Van Rensburg-tehuis te koop, word onderteken in Februarie 2025, en die aanbod vir Louis Trichardt-tehuis in April 2025. Bankwaarborge moet gelewer word deur beide kopers en daar verloop dus nog ’n paar maande voordat die prosesse gefinaliseer word.

Louis Trichardt-tehuis

Van Rensburg-tehuis

Gesprekke is gevoer met al die inwoners en hul families by beide tehuise om die beste moontlike oplossing te vind vir die skuiwe na een van die ander tehuise in die Ons Tuis-groep. Al die personeel by beide tehuise is verskuif na ander tehuise van Ons Tuis (MSW).

Van Rensburg-tehuis is ontruim op 31 Augustus 2025, en die gedenksteen het sy laaste rusplek gevind by die SP Engelbrecht-museum. Die ontruiming by Louis Trichardt-tehuis het ten einde geloop op 30 September 2025.

Die Monument Dienssentrum, langs Van Rensburg-tehuis, is die eiendom van die City of Tshwane, en met die sluit van die twee tehuise het dienste soos etes en aktiwiteite vir bejaardes van die Danville-omgewing ook op 30 September 2025 tot ’n einde gekom.

’n Era van bejaardeversorging by twee van die oorspronklike Monumenttehuise van die NHSV is afgesluit in 2025. Ons sê dankie aan al die matrones, bestuurders en personeel by beide tehuise vir 66 jaar se dienslewering aan bejaardes wat daarop staatgemaak het. Ons dank gaan ook aan die Kommissie van die AKV, die ADV, al die gemeentes en die NHSV se vrouelidmate vir hul betrokkenheid oor al die jare by wyse van besoeke, donasies en as lede van die Inwonerskomitees.

Ons is dankbaar vir vroue van die NHSV Hoofbestuur wat in die 1950’s die visie gehad het en voorlopers was vir bejaardesorg. By hierdie tehuise kon ons ons barmhartigheidstaak volvoer en aan ons helde van gister ’n laaste blyplek voorsien en hulle versorg met toewyding en respek.

Dankie is so ’n klein woordjie vir ’n fenomenale saak wat ons vir 66 jaar gekoester het en wat ons na aan die hart gelê het. Ons bou steeds voort vir die toekoms met die geskiedenis en ervaring van twee tehuise, Van Rensburg en Louis Trichardt, wat bakens was vir bejaardeversorging in die Kerk.

(Mev Mari-lizé Beukes is besturende direkteur van Ons Tuis MSW)