Die heel belangrikste besluit wat die 74ste AKV eersdaags moet neem, handel oor teologiese opleiding. Teologiese opleiding bepaal immers die toekoms van die Kerk.

Beskrywingspunt 18 van die Kuratorium, wat die akademiese opleiding van teologiestudente wil verkort, is bitter gevaarlik. Die skade wat dit sal aanrig, sal waarskynlik eers oor tien of 20 jaar blyk – en dan is dit te laat om ongedaan gemaak te word. Ek motiveer graag my standpunt met die vier belangrikste redes.

  1. Die voorstel verlaag die status van ons predikante se opleiding

Die kern van die beskrywingspunt is dat die minimumvereistes vir toelating as predikant van die huidige vyf jaar akademiese opleiding (aan ’n universiteit) en een jaar kerkeie opleiding (aan die HTK) verminder word na vier jaar akademiese opleiding en twee jaar kerkeie opleiding.

Dit verkort dus nie die studieperiode nie, dit verlaag bloot die predikant se algemeen erkende kwalifikasies van ’n meestersgraad in teologie na ’n eerste vierjaargraad (of driejaargraad gevolg deur ’n honneurs). Hierdie akademiese kwalifikasie word dan ingevolge die Kuratorium se voorstel aangevul met ’n kerklike diploma of lisensiaat – wat nog nie by die Raad op Hoër Onderwys (RHO) of die SA Kwalifikasieowerheid (SAKO) ingedien of geakkrediteer is nie, en dus geen erkenning van enige ander instansie geniet nie.

Dit is belangrik om uit te wys hoe teologiestudente se graadstruktuur oor die jare ontwikkel het (slegs die kwalifikasies in kleur is SAKO-geakkrediteer):

Vanaf 1917 BA (3 jr) BD (3 jaar)
Vanaf 2000 BTh (4 jr) MTh (2 jr) plus
Addisionele kerkeie opleiding
Vanaf 2018 BTh (4 jr) MTh (1 jr) DKB (1 jr)
Vanaf 2024 BTh (4 jr) MTh (1 jr) Eie DKB (1 jr)
Vanaf 2026? BTh (4 jr) Eie lisensiaat (2 jr)

Vanaf 2000 het die HTK ’n buite-kurrikulêre program aangebied wat teologiestudente vanaf hul vierde studiejaar deurloop het – terwyl hulle steeds voltyds met ’n BTh of MTh besig was. Hierdie program het bestaan uit kerkeie modules afgestem op die bedieningspraktyk van die Hervormde Kerk, en het praktiese werk in gemeentes van die Kerk ingesluit. Dit het uitgeloop op die verkryging van ’n Diploma in Kerklike Bediening (DKB) wat, naas die akademiese kwalifikasies, ook as voorwaarde gegeld het vir toelating tot die kerklike proponentseksamen.

Kerkeie opleiding, wat rekening hou met die eie aard van die NHKA en die praktyk van ons gemeentelike bediening, is as aanvulling tot die akademiese opleiding baie kosbaar. Maar dit mag nie ten koste van die akademiese opleiding plaasvind nie.

  1. Dit vervlak die teologiese diepte in ons Kerk verder

Die inhoud en fokus van die akademiese onderrig is reeds beduidend verander weens die verandering van die struktuur van die teologiese opleiding. Die tradisionele BA het teologiestudente eers aan kritiese wetenskapsbeoefening in ’n wye verskeidenheid vakke blootgestel vóórdat hulle begin het om teologie te studeer. Dit het teologiestudente geleer om krities te dink, en dit het diversiteit binne die predikantekorps verseker.

Daar is vir dekades lank groot klem gelê op die oorspronklike tale van die Bybel, Hebreeus en Grieks, en die Kuratorium se vereiste was dat elke teologiestudent minstens een van die tale tot op derdejaarsvlak moes neem. Die gevolg was dat Hervormde predikante dikwels jare later steeds die oorspronklike teks in hul preekvoorbereiding lees, en dat talle van ons predikante gerekende akademici geword het wat ’n deurslaggewende invloed uitgeoefen het – nie net op ons eie studente nie, maar op ook studente van ander kerke.

Omdat teologiestudente redelike vryheid in die samestelling van die kursusinhoud van die BA gehad het, is die Kerk op die lang duur geseën met predikante wat oor uiteenlopende vakkundigheid beskik het: taalkunde en letterkunde, filosofie, sielkunde, sosiologie, antropologie, kultuurgeskiedenis, regte, besigheidsbestuur, ensovoorts.

Heelwat teologiestudente het tydens hul BD (teologiestudie) ook honneurs- en meestersgrade in ander vakke voltooi, en daarmee ’n besonder goeie basis gelê vir latere spesialisasie in die teologie en ander vakrigtings. Die gevolg was talle predikante wat nagraadse kwalifikasies in veral Hebreeus, Grieks, Filosofie en Sielkunde verwerf het, terwyl die vaardighede wat hulle hier geleer het, hulle in staat gestel het om doktorsgrade in Ou Testament, Nuwe Testament, Sistematiese Teologie, en ander vakgebiede te verwerf.

Die sogenaamde “geïntegreerde kursus” vir teologiese opleiding is in 2000 met die totstandkoming van die veelkerklike Fakulteit Teologie ingevoer. Eintlik was die bedoeling daarvan suiwer finansieel: om ál die Kerk se teologiestudente van ander universiteite na UP te bring ter wille van die staatsubsidie vir die Fakulteit waar ons dosente poste beklee het. Daar is destyds ook aangevoer dat dit aan talle studente se begeerte voldoen om “reg van die begin af” met die teologie besig te raak en dus sou help dat minder studente deur die loop van hul studiejare opskop. Hoewel die geïntegreerde kursus dit nie onmoontlik gemaak het vir teologiestudente om Hebreeus, Grieks, Filosofie of ander vakke tot op derdejaarsvlak te volg nie, het dit aansienlik moeiliker en onaantrekliker geword. Dit word bevestig deur die feit dat slegs ’n handjievol predikante die afgelope 20 jaar nagraadse kwalifikasies in hierdie vakke voltooi het.

Die verskuiwing in teologiese kennis en vaardighede binne die Hervormde Kerk word skynbaar deur baie min mense raakgesien, en die toekomstige uitwerking hiervan word duidelik nie in die Kuratorium se beskrywingspunt verreken nie. Vergelyk gerus die volgende:

1995 2008 2025
Getal diensdoende predikante 353 254 184

Diensdoende predikante met doktorsgrade

Ou Testament 5 7 3
Nuwe Testament 6 10 7
Sistematiese Teologie

(Dogmatiek en Etiek)

5 5 2
Historiese Teologie

(Kerkgeskiedenis)

5 8 5
Godsdiens- en Sendingwetenskap 3 2 2
Praktiese Teologie 5 10 11
Ander 5 14 3
TOTAAL 34 56 33

Die bostaande tabel demonstreer die dramatiese swaai weg van die kerndissiplines van die teologie (Ou Testament, Nuwe Testament en Sistematiese Teologie) na die Praktiese Teologie. Kundigheid in al die subdissiplines van die Praktiese Teologie is waardevol, maar ’n kerk wat nie genoegsame kundigheid van die grondvrae in die kerndissiplines binne sy predikantekorps het nie, loop op dun ys. Dit is ooglopend duidelik dat daar veral in hierdie kerndissiplines feitlik nie opvolgers is vir die huidige dosente aan UP of die HTK nie. Waar is die volgende generasie se Bybelvertalers? Waar is die toekomstige eksegete? Waar is die predikante wat nog vakkongresse bywoon en op die hoogte bly van wetenskaplike denke oor die probleme van hul vakgebied? Waar is die teoloë wat met gesag ’n kerklike stem oor die vrae van ons tyd in die openbare domein kan laat hoor?

  1. Meer praktiese vaardighede, minder kritiese denke en fyn formulering

Die volgende risiko aan die Kuratorium se voorstel is natuurlik dat die opleiding meer prakties en minder akademies word, dat teologiestudente meer tegnieke geleer word en minder ingeoefen word om moeilike vrae krities te ontleed en weldeurdagte standpunte te verwoord.

Sal professionele lidmate – dokters, advokate, rekenmeesters, sielkundiges, ingenieurs en ander – daarmee tevrede wees? Want, soos prof Wim Dreyer skryf: Elke preek vloei voort vanuit ’n bepaalde teologie en weerspieël die prediker se teologie (of gebrek aan teologie) (Geskiedenis van die Hervormde Kerk 1824-2024, 2024:215).

Dit is eintlik onafwendbaar dat predikante minder vaardig sal wees om ingewikkelde kwessies te beredeneer en genuanseerd te formuleer. Voorgraadse studie (’n baccalaureus soos ’n BTh) is grootliks op onderrig en toetsing gebaseer, in teenstelling tot nagraadse studie (’n meestersgraad soos ’n MDiv) wat van die student verwag om selfstandig navorsing te doen, verskillende standpunte oor ’n saak krities te weeg, en ’n eie verantwoorde gevolgtrekking in ’n samehangende skripsie, verhandeling of proefskrif te formuleer.

Daar is kwalitatief ’n baie groot sprong tussen ’n eerste graad (baccalaureus) en ’n nagraadse kwalifikasie op die vlak van ’n meestersgraad of doktorsgraad. Wil die Kerk regtig afsien van die vereiste dat haar predikante nagraads leer om inligting te sif en te weeg en weldeurdagte preke en standpunte te formuleer? Is nóg meer praktykopleiding in ’n gemeente regtig vir die Kerk van meer waarde as die ontwikkeling van kritiese denke?

  1. Die effek na buite

Die besluit wat die AKV oor teologiese opleiding neem, het noodwendig ook ’n effek op ons verhoudings met ander instansies.

Minder nagraadse studente verswak ons Kerk se posisie binne die Fakulteit Teologie en Religie aan UP selfs verder. In plaas daarvan om méér knap teologiestudente te gaan werf om die tekort aan predikante aan te vul en so ons studentegetalle te versterk, sou aanvaarding van die Kuratorium se voorstel tot gevolg hê dat ons Kerk mínder studente aan die universiteit het (terwyl meestersgraadstudente aansienlik meer staatsubsidie vir die universiteit verdien).

Die Kuratorium se voorstel is ook nie met ons naaste kerklike vennoot, die NG Kerk, bespreek nie. Dít terwyl ons bilaterale ooreenkoms bepaal dat ons twee kerke gesamentlik met universiteitsowerhede onderhandel om die beste belang van die onderskeie kerke te verseker. Aanvaarding van die beskrywingspunt sou ook die NG Kerk se posisie aan UP verswak omdat daar dan nóg minder studente is wat die MDiv neem – die nagraadse kwalifikasie wat juis ten dienste van die NHKA en die NGK geskep is. ’n Verlaging van die akademiese vereistes vir toelating tot die bediening in die Hervormde Kerk sal natuurlik ook die oor en weer beroep van predikante tussen die twee kerke raak, en dit is eweneens nie met die NG Kerk bespreek nie.

Uiteindelik het aanvaarding van Beskrywingspunt 18 ook implikasies vir ander kerke se persepsies en verwagtinge van ’n Hervormde predikant. Waar baie ander kerke tans met waardering en selfs ’n tikkie jaloesie opkyk na die deeglike opleiding wat ons predikante ondergaan het, mag Hervormde predikante dalk in die toekoms in die massa verdwyn, met die gevolg dat die invloed wat ons tot dusver vanuit ’n klein Afrikaanse kerkie uitgeoefen het, eenvoudig sal kwyn.

Ten slotte herhaal ek: Teologiese opleiding bepaal die toekoms van die Kerk. ’n Besluit gebou op ’n illusie oor die Hervormde Kerk se historiese en huidige teologiese diepte mag ’n fatale effek hê op die Kerk se toekomstige diepte en die impak wat ons op die gemeenskap uitoefen.

Tereg skryf prof Wim Dreyer in sy Geskiedenis van die Hervormde Kerk 1824-2024: Goeie teologie integreer geloof, kerk en wetenskap (2024:206). Maar die kritieke balans tussen geloof en wetenskap, tussen praktyk en akademie, mag nie versteur word nie. En dit is presies wat Beskrywingspunt 18 doen.

(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)