Stomgeslane Stiaan van Speelmanskraal vra: Beste Oupa Stoep, help asseblief! Ek word oorval deur lidmate wat my kom sien vir berading. Ek het twee probleme: Ek weet nie wat om te verwag as die mense by die voordeur instap nie, en ek weet ook nie hoe ek hulle altyd met raad kan bedien nie. Het Oupa dalk vir my raad?
Beste Stiaan, laat Oupa maar nou ruiterlik teenoor jou erken: Oupa was baie meer behendig met bedrading as berading. Ook het hy nooit geweet wat gaan gebeur as die mense op die rusbank in sy studeerkamer hul sit kry nie.
So gebeur dit dat oom Sarel en tannie Carol ’n afspraak maak om Oupa te kom sien. Hulle was onderskeidelik ’n wewenaar en ’n weduwee. Oupa het gesien hoe die tweetjies Sondag vir Sondag al hoe stywer teen mekaar sit tydens die erediens. Oom Sarel val dadelik met die deur in die huis: Dominee, ons móét trou.
Oupa het soos ’n goudvis gesit en gaap en gedink dat die tyd van wonderwerke seer sekerlik nog nie verby is nie, toe oom Sarel hom uit sy ellende help. Hulle moet trou want oom Sarel gaan een van die dae op pensioen en as hulle nie getroud is nie, kan die tannie nie deel word van sy mediese fonds nie, verduidelik oom Sarel terwyl hy lekker lag vir sy blosende pastor.
Oupa het ook maar baie gesukkel om die regte raad vir elke probleem te kry. Oupa het egter nie die stel afgetrap wat een van sy kollegas oorgekom het nie. Dié het ’n lang pad geloop met ’n gemeentelid wie se man gereeld te diep in die bottel gekyk het. Hulle het alles probeer: mooipraat, baklei, dreig, soebat – niks het gehelp nie. Die dominee besluit toe dat dit tyd is vir drastiese stappe.
Hy gaan huur ’n bloedrooi duiwelkostuum, kompleet met horings en ’n stert. Hy sê toe vir die langlydende eggenote om die kostuum aan te trek as haar man weer op die kuier uit is en hom dan goed skrik te maak as hy terugkom. So gesê en so gemaak. Toe die vrolike man by die huis instap, spring sy vrou agter ’n kas uit en sê: Ek is die duiwel en ek het jou kom haal!
Dit verloop toe nie heeltemal volgens plan nie, want die wynvlieg loop na die duiwelfiguur, steek sy hand uit en sê: My maggies, Swaer, dis lekker om jou te ontmoet. Ek is mos al 20 jaar met jou suster getroud!