Johannes 13

Petrus het daardie eerste dag van die Pinksterfees opgestaan en begin preek. Dit het goed gelyk, daar was nogal baie mense. Hy het ’n goeie gehoor gehad, mense van orals in die bekende wêreld. Hy het ’n goeie preek gehad en toe hy klaar gepraat het, het hy ook belowe dat hierdie verlossing vir almal is, selfs vir hul kinders.

Dit is maklik om iets te sê, maar moeiliker om te doen! So het ons ma’s ons geleer. Preek is maklik! Later in Galasiërs 2: 11-13 sukkel Petrus met selfinsig (in Antiogië) wanneer hy nie saam met onbesnede Jode wou eet nie. Paulus moes met hom raas: Petrus, jy sê iets, maar jy doen iets anders! Die een oomblik sê jy vir al die mense in Jerusalem dat wanneer jy begeesterd word, julle deel van ons sal wees. En net die volgende oomblik begin jy groepies maak en ander uitsluit. Eintlik wil Paulus hier sê: Dubbele standaarde, Petrus!.

Dit is amper asof Petrus met homself baklei. Ek weet wat ek moet doen, maar ek hou van my groepie. Ek dink nie dit is Petrus se skuld nie. Ons is almal so vasgevang in ons groepies. Inteendeel: Wie veroorsaak hierdie spanning by Petrus? Hierdie skommeling? Wie se skuld is dit? Lukas sê dit is God. God het sy Gees gestuur om die kerk te stamp en te stoot. Om my en jou te stamp en te stoot.

Jesus was die voete van die dissipels en verduidelik aan Petrus dat ons in ’n stowwerige wêreld leef waar dit nodig sal wees om genoeg selfinsig te hê om te verstaan dat jou voete vuil is. Calvyn verstaan dit as ’n gedurige inkeer, ’n gestoot en getrek deur die Gees in jou lewe. Dit is nie nodig om weer skoongewas te word nie, ons het reeds deel aan die verlossing. Tog word jou voete vuil!

Dr Hein Delport, Swartkop / Hervormde Teologiese Kollege