Genesis 12: 1-9

Ná Abram se ontmoeting met God het sy lewe verander. Miskien oor die opdrag wat die Here vir hom gegee het: Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Abram moet oor begin. Hy moet van die verlede afskeid neem, die sekuriteit wat hy gehad – sy mense en sy land – agterlaat en van vooraf begin. Abram moet alles los vir ’n opdrag en ’n belofte van ’n God wat hy nie geken het nie.

Abram is voor ’n keuse gestel: Bly waar jy is en sukkel voort in Ur met jou ou lewe, of waag dit om jou vertroue in God te stel, jou lewe in sy hande oor te gee en te vertrou dat jy ’n nuwe lewe sal kry, nuwe hoop en ’n nuwe familie, selfs in die onbekende.

Dit is ook die keuse waarvoor baie gemeentes te staan kom – met die reuseverskil dat God nie vir ons ’n vreemdeling is nie. Gaan ons – miskien ook die kerk – bly waar ons is, of gaan ons dit waag en God volg waarheen Hy ons ook al stuur en lei?

God wil met ons – en die kerk – oorbegin en Hy nooi ons daarom uit om die pad en die avontuur waarvan ons dikwels wil wegkruip, aan te neem. Hy nooi die kerk en haar lidmate uit om opnuut saam met Hom te waag. Die vraag is egter of ons dit sal waag en ons vreesloos in God se hande sal oorgee en die nuwe begin waartoe Hy ons roep, tegemoet sal gaan, of gaan ons kies om in die gemaksone te bly waar ons is?

Gebed

Here, gee asseblief vir ons die geloof en vertroue dat ons U ook vreesloos sal volg waarheen U ons ook al lei of stuur. Amen.

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes