Esegiël 34: 11-31

Die beeld van God as herder is nie onbekend vir die meeste gelowiges nie. Die teks wat gewoonlik geassosieer word met hierdie herderbeeld, is Psalm 23. In die teks van vandag word dieselfde beeld gebruik vir God se volk: God as herder oor God se mense. Hierdie teks vertel nie net van God se leiding en versorging van die volk nie, maar ook van God se reg en geregtigheid. Die herder se werk is nie noodwendig net om die skape op te pas nie, maar ook om te doen wat nodig is vir wat die beste gaan wees vir die trop.

Dat God as herder van die volk optree, sou die indruk kon skep dat God se volk kan ontspan met die wete dat hulle in goeie hande is. Tog moet ons ook noem dat wanneer dit kom by die kerk en ons tuisgemeentes, sentiment soms kan maak dat ons graag alles so fyn moontlik wil monitor. Daar is verskeie gebeure en situasies wat veroorsaak dat ons as gemeentelede bekommerd raak oor die toekoms van die gemeente of dalk van die breë kerk. Wanneer ons egter besluite neem vanuit ’n plek van vrees, gebeur dit dat skuiwe gemaak word en besluite geneem word wat mense uitsluit en grense trek waar grense nie nodig is nie.

Die uitnodiging van die teks is om vertroue te hê in God as die herder van ons geloofsgemeenskappe. Alhoewel dit beteken dat ons in die beste moontlike hande is, beteken dit ook dat dit nie ons is wat die reëls maak nie. Ons is slegs die trop en ons het nodig om toe te laat dat God ons lei waar God ons graag wil hê. Dit het soms veranderinge tot gevolg wat nie altyd binne ons gemaksone is nie. Die vraag is of ons kan toelaat dat God ons herder is en aanvaar dat sommige veranderings en skuiwe dalk wel nodig is.

Ds Thomas Dreyer, Malelane