Hebreërs 4: 14-16
Die beeld van Jesus as ons Hoëpriester is welbekend maar het dalk nie die grootste impak nie omdat die Christelike geloof nie juis praktiese voorbeelde het van hoëpriesters nie. Dalk is die beeld van ’n geestelike leier wat die kerk vooruitgaan in voorbeeld, ’n beskrywing waarmee ons ons makliker kan vereenselwig. Die besonderse aan hierdie teks is dat Jesus nie ’n leier is wat uit voeling is met ons uitdagings en tekortkominge nie. Jesus ken menswees met al die opwinding en uitdagings daarvan eerstehands.
Dit is darem maar ’n aangrypende gedagte dat die Skepper-God bereid is om mens te word en tussen mense te beweeg. Die Almagtige God wat mens word en die aarde betree, beleef die lewe deur mense-oë. Jesus het gegaan deur al die lewensfases waardeur ons gaan. Die uitdagings beleef met groei en leer. Die mooi sowel as die kompleksiteit van verhoudings. Jesus het in hierdie lewe ook die pyn van verlies ervaar. Jesus se tyd was ook nie polities een van die stabielste tye nie. Jesus se leer en lewe het nie in isolasie gebeur weg van korrupsie, geweld, misdaad, ongeregtigheid of verlies nie.
Wanneer hierdie voorbeeld van Jesus vir ons as geloofsgemeenskappe voorgehou word, moet ons besef dat God vir seker begrip het vir ons swakhede, maar ook dat God se lig veronderstel is om in ons swakhede na vore te kom. Die korrupsie, geweld, misdaad, ongeregtigheid en verlies is nie redes om op te tree in ons eie weldenke nie. Trouens, dit word al hoe meer die motivering hoekom ons as geloofsgemeenskap Jesus se voorbeeld van leer en lewe behoort te volg. God gaan die kerk vooruit, dit is ek en jy wat in die voetspore kan volg.
Ds Thomas Dreyer, Malelane