Efesiërs 4: 11-16

God is nie net Skepper van die heelal nie, maar ook van die Kerk. Hiermee word nie bedoel God is die een wat jou naaste kerkgebou opgerig het nie, maar dat God die een is wat die geloofsgemeenskap op ’n lokale, nasionale en internasionale vlak skep. Hier gaan dit nie oor die geloofspraktyke nie, maar oor ons saamwees en eenheid in Christus. Die teks vertel hoe ons gawes in die Gees juis gegee is sodat ons al hoe meer in eenheid kan groei, nader na die beeld van Christus toe.

Neem tyd in die natuur en kyk ’n bietjie na hoe plante, diere en ekosisteme interaktief leef en funksioneer. In die ontwerp daarvan sou ’n mens kon sê dat dit nie beter uitgedink kon wees nie. Alhoewel sommige aspekte van ’n gegewe ekosisteem dalk vreemd is, bly dit iets om in verwondering te aanskou. Soos God die natuur skep, kan ons dieselfde patroon vind in die kerk. Sommige dinamika lyk vreemd en onverwags. Wat wel belangrik is om raak te sien, is dat niks werklik altyd dieselfde kan bly nie. So dinamies soos die natuur is wat God skep, so dinamies is die kerk geskep. ’n Ekosisteem van gawes wat in harmonie saamwerk tot diens van God. Dit is gewoonlik wanneer ons vergeet van die rol wat die Skepper in ons geloofsgemeenskappe speel, dat ons net wil vashou aan dinge soos dit tans is. Met die hoop dat alles tog net dieselfde sal bly. Dit kan egter nie.

So ongemaklik as wat verandering in die oomblik kan voel, so besonders en waardevol is dit oor tyd heen. Ek en jy het dalk net nodig om soms terug te staan in hierdie ekosisteem, dit nie te probeer beheer en monitor nie, maar God se skeppende en dinamiese krag in die gemeenskap van gelowiges te sien, te erken en te geniet vir die wonder wat dit is.

Ds Thomas Dreyer, Malelane