Lukas 9: 51-56

Dit is belangrik om hierdie vreemde teks se konteks te bespreek. Jesus se optrede hier is presies die teenoorgestelde van wat verwag word. Vroeër in die hoofstuk stuur Jesus die twaalf uit. Hulle moes redelik aangrypende dinge gesien en beleef het in die opdrag wat hulle uitgevoer het, want nie net stry hulle oor wie die belangrikste is wanneer hulle terugkom nie, maar Jakobus en Petrus is vas oortuig dat hulle met gemak vuur uit die hemel kan neerroep oor hierdie Samaritaanse dorp wat hulle nie wil deurlaat nie. Jesus help hulle reg, want verwoesting was nie die doel wat Jesus wou bereik nie.

Dit is hier dat ’n mens sou dink Jesus dalk eers die dissipels se opleiding sou verfyn voordat Hy hulle weer uitstuur, net om seker te maak hulle veroorsaak nie skade nie. Hy doen egter die teenoorgestelde, want in die volgende hoofstuk stuur Jesus sommer nog twee en sewentig uit. Vanuit ’n menslike perspektief het Jesus nie net die probleem opgelos nie, maar Hy het so pas die risiko vergroot. Jesus sien egter iets wat ons nie sien nie. Soveel as wat ons menslike gebrokenheid eers wil regmaak en kontroleer, gebruik God juis die gebrokenheid in sy diens.

My en jou foute is nie vir God te groot om ons te kan gebruik nie. God gebruik ons juis soos ons is, wat ons op ’n reis sit om nie net te groei en te genees in God se teenwoordigheid nie, maar om so ook God se hart beter te leer ken. As God so van beheer en kontrole om tog net seker te maak almal doen alles reg kan afsien, kan ek en jy nie ook maar ’n bietjie laat gaan nie en die Gees se werk vertrou in die diens van die kerk? Alles met die wete dat God vertroue het in ons as sy kinders.

Ds Thomas Dreyer, Malelane