Romeine 1: 16-17

Op hierdie Hervormingsfees herdenk ons die begin van die Protestantse Hervorming. Die kern van dié beweging was die herontdekking dat die evangelie die krag van verlossing bevat vir elkeen wat glo. In Romeine 1: 16 lees ons: Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.

Martin Luther, en die ander Hervormers, het hierdie waarheid weer voorop gestel teenoor die wanpraktyke en korrupsie van hul tyd. Hulle het benadruk dat verlossing slegs deur geloof in Jesus Christus kom, en nie deur menslike werke of kerkgebruike nie. Hierdie herontdekking het die kerk gesuiwer en die fokus teruggeplaas op God se werk in Christus. Die Hervorming herinner ons aan die noodsaaklikheid van die Skrif alleen (sola scriptura), geloof alleen (sola fide), genade alleen (sola gratia), Christus alleen (solus Christus), en die eer van God alleen (soli Deo gloria). Hierdie beginsels rig ons vandag nog in ons geloof en praktyk.

Die boodskap van Romeine 1: 16-17 daag ons uit om onbeskaamd en met volle vertroue die evangelie te deel. Ons leef in ’n wêreld wat verlore is, waar baie mense smag na hoop en verlossing. Soos Paulus ons aanmoedig om nie skaam te wees oor die evangelie nie, herinner die Hervormingsfees ons aan ons roeping om die lig van Christus in ’n donker wêreld te wees.

Gebed

Here, dankie vir die krag van u evangelie wat ons verlos. Help ons om altyd daarop te vertrou en dit met vrymoedigheid te verkondig. Gee ons die moed om staande te bly in ons geloof, ongeag die uitdagings wat ons in die gesig staar. Mag ons deur ons woorde en dade die liefde van Christus weerspieël en ander na U toe lei. Ons bid vir herlewing in ons eie lewens, in ons gemeentes, en in ons gemeenskap. Mag die waarhede van die Hervorming ons lei en inspireer om u Naam te verheerlik in alles wat ons doen. Amen.

Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos