Tydens hul vergadering op 20 Oktober 2025 het die Van der Hoff Teologiese Vereniging hul nuwe bestuur vir 2026 verkies.

Mev Rolandi McGeer is verkies as praeses, mej Lané Truscott as ondervoorsitter, mej Anuschke Muller as skriba, en mnr At Hattingh as fiscus. Die volgende konvenors is verkies: Mej Corlia Saunders as eerstejaarsvoog, mej Lané Truscott as hoof van sosiaal en kultuur, mnr At Hattingh as moaner en organiseerder van die kamp, mnr Zander Petzer as die taalwag, en mej Rochelle Swart as hoof van personalia. Die Kerk wens hierdie studente geluk en bid hulle seën toe vir die verantwoordelikhede wat voorlê.

Die uittredende praeses, Kharla Guest, het die studente herinner dat relevansie die krag van die Bybel is, en daarom moet die vergadering hul hoop en vertroue in die Here plaas. Sy het benadruk dat ons die jaar kan afsluit met dankbaarheid, maar ook met hoop vir die toekoms. Mej Carien Janeke, wat die studente namens die finalejaars gegroet het, het aangesluit by die tema van hoop en Van der Hoff beskryf as ’n plek waar studente saamgebind word en mekaar ondersteun, en waar hulle saam kan voorberei vir die roeping wat hulle deel. Sy het afgesluit met die volgende gedagte: Omhels die reis, leer uit elke vergadering, groei in elke gesprek, en koester elke oomblik saam. Hierdie tyd is ’n geskenk; ’n tyd van leer, ’n tyd van groei, en ’n tyd van val en opstaan.

Tydens die vergadering het die eerstejaars, mej Rochelle Swart en mnr Zander Petzer, onderneem om hulle te onderwerp aan die konstitusie van die huis. Hulle het vir die eerste keer saam met die ander studente en dosente uit die beker gedrink tydens hul installasie.

Mev McGeer skryf die volgende oor haar verkiesing as intredende praeses: Ek is dankbaar en opgewonde om as praeses van Van der Hoff vir 2026 verkies te wees. Dit is vir my ’n groot voorreg om saam met my medebestuur en -studente hierdie nuwe jaar met ywer en opgewondenheid aan te pak. My diepste wens is dat Van der Hoff ’n ruimte sal wees waar al ons studente mekaar ondersteun, saam groei, en herinner word dat ons deel is van iets groter as onsself.

(Hooffoto: Mev Rolandi McGeer (voor), mnr At Hattingh, mej Anuschke Muller en mej Lané Truscott)

(Ds Iwana Kruger is die NHKA-joernalis en leraar in Gemeente Pretoria-Oos)