Markus 12: 28-34
NT Wright vra, as jou huis vandag begin brand, wat sal jy graag wil red op pad uit? Uiteindelik staan jy met dit wat jy gekies het buite die huis en kyk toe hoe alles tot as verbrand, maar jy besef dat die keuses wat jy gemaak het, ’n uitdrukking is van jou prioriteite.
Ons moet goed verstaan hoe Jesus Israel se geloof in een God verwoord en hoe die belangrikste gebod met twee kante daaruit vloei. Vers 31 ontmasker ons almal: Geen ander gebod is groter as dié twee nie. Ons moet ook fyn let op die skrifkenner se kommentaar op Jesus se antwoord. Sy diepe insig in God se koninkryk kom as ’n verrassing en ontbloot ons eie vooroordele oor ander mense.
Dit gaan eintlik maar net oor een vraag: Wie is God? En die vraag oor die grootste gebod is die sentrale vraag van ’n eerlike soeker na God. Na wat verbied word en wat toelaatbaar is om te doen.
Markus moedig sy lesers aan om op die punte van hul tone te lewe, in verwagting dat die einde gou kom, met die besef dat dit dalk nie so gou sal gebeur as wat ons hoop nie. Dit kan ook nie met enige mate van sekerheid voorspel word nie. Daarom moet ek en jy onthou om elke dag só te lewe dat ons gereed sal wees wanneer die wederkoms van Christus aanbreek. Dit beteken, gaan nou terug na die lewe van elke dag en wees lief vir God met alles wat jy het en alles wat jy is; en gaan wees lief vir alle ander mense soos wat jy jouself liefhet. Gaan lewe met die seën van die Here.
Gebed
Lewende God, Vader, Seun en Heilige Gees, U is saam met ons op pad, waar ons ook al gaan. U neem die los stukke van ons lewe en voeg dit saam om van ons u heilige volk te maak. Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor en om u boodskap te gehoorsaam. Amen.
Dr Johan Bester, Randfontein Midpark / SGB