Markus 12: 38-44

Prysgawe van jou lewe is dan die tema van die laaste kort toneel, waar Jesus ’n teenstelling maak tussen die ryk mense wat dit kan bekostig om baie geld in die tempelskatkis te gooi terwyl hulle seker maak dat ander mense sien dat hulle dit doen enersyds, en die arm weduwee andersyds. Sy het letterlik “haar hele lewe gegee”, die twee kopermuntstukke was alles wat sy gehad het om van te lewe vir daardie dag. Al was haar offer gering, was dit volledig en totaal.

Hierdie teksverse open die perspektief dat daar meer ter sprake is as wat met die oog waarneembaar is. Sy het nie net twee muntstukke in die skatkis gegooi nie, maar letterlik alles wat sy gehad het. Die Messias was nie maar net die seun van Dawid nie, ’n menslike koning onder ander menslike konings nie. In werklikheid het die Messias, die God van Israel, Homself volledig gegee – alles wat Hy gehad het.

Hier word geleer dat ’n offer om waardevol in die oë van God te wees, nie bloot bepaal word deur die geldwaarde daarvan nie. Nee! Die motief, houding, gesindheid en finansiële toestand van die gewer  word  in ag geneem. Die Skrif leer verder ook dat die armes nie vrygestel behoort te word daarvan om by te dra tot die skatkis in die tempel nie. Die weduwee is vir ons ’n voorbeeld van dankbare afhanklikheid, ten spyte van haar armoede.

Ek wonder net wie die boodskap van Jesus dat die koninkryk van God naby gekom het (Mark 1: 15) die beste verstaan? Was dit die geestelike leiers of die arm weduwee?  Waarom gee jy dankoffers?

Gebed

Heilige God, Vader, Seun en Ewige Gees, U sorg vir ons op soveel meer maniere as wat ons kan begin om op te noem. U was ons skoon met Jesus se bloed. U klee ons met u genade. U heilig ons met u hoop. Ons dank U van harte vir al u goedheid. Amen.

Dr Johan Bester, Randfontein Midpark / SGB