Johannes 18: 33-37

Die tema rondom die koningskap van Jesus vind ons reeds van die eerste vers van die Evangelie af wanneer ons in Johannes 1: 1 lees: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Oor hierdie koninkryk kan ons baie dinge sê, maar een saak wat in die Johannes-evangelie duidelik na vore kom, is dat hierdie koninkryk beide verborge en openbaar is.

Jesus se getuienis bring die teks tot ’n klimaks wanneer Hy bely: Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê (vers 37). Die toneel tussen Jesus en Pilatus is die hoogtepunt van die ironie in die Evangelie, wanneer Pilatus nie Jesus se koningskap bevraagteken of die aanklagte wat teen Hom ingebring word nie. Pilatus bevestig eerder Jesus se koningskap, soos wat die titel op die kruis getuig, asook sy onwrikbaarheid teenoor die hoëpriesters deur nie die titel te verander nie – wat in Hebreeus, Aramees en Grieks aangebring is: Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode (Joh 19: 19-22).

Die waarheid is in Jesus Christus beliggaam. Dit hoef nie bewys te word nie. Waarheid is die Een wat op verhoor voor Pilatus gestaan het. Daarom word die teks vir vandag deur vers 38 opgevolg: Wat is waarheid? Ons het die ware getuienis van die teks gehoor omdat die waarheid as Jesus Christus voor ons staan. Die Waarheid is die Woord wat vlees geword het (Joh 1: 14). Dit is inderdaad Christus die Koning, en die ware getuienis en verkondiging van Christus is die Koning.

Gebed

Here God, Skepper van die hemel en die aarde, U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk. Laat u lewegewende Gees oor ons kom sodat ons ’n lewende offer kan wees, wat in Christus vir U aanneemlik is. Deur Christus, saam met Christus, in Christus, behoort aan U al die eer en die heerlikheid nou en vir ewig. Amen.

Dr Johan Bester, Randfontein Midpark / SGB