Johannes 14: 1-14
Toe ons kinders was, het ons al ons toekomsdrome begin met die woorde as ek eendag groot is. Ons drome vir ons toekoms begin dalk nie meer in ons volwasse jare met hierdie woorde nie, maar elkeen van ons het steeds drome (of dalk eerder hoop) vir “eendag”, nie waar nie? Wat is daardie toekomstige eindbestemming wat jy glo vir jou werklike geluk gaan bring? Hoeveel keer stel ons nie ons werklike geluk uit tot die een of ander onbekende toekomstige datum nie?
Die dissipels het dit ook gedoen. In Johannes 14 doen Jesus moeite om aan sy dissipels te verduidelik dat daar in sy Vader se huis baie woonplek is, en dat Hy self daarheen gaan om vir hulle plek gereed te maak. Hy sal boonop terugkom en elkeen van hulle kom haal. Jesus sê dan: Julle ken die pad na die plek toe waarheen Ek gaan. Thomas antwoord eerste en sê dat hulle nie duidelikheid het oor die plek waarheen Jesus gaan nie, en daarom ook nie die pad soontoe ken nie. Jesus verduidelik aan hulle dat Hy die pad na daardie plek toe is. Hy is die Weg na die Vader toe. Hy verduidelik ook vir sy dissipels dat hulle Hom ken, so daarom ken hulle ook sy Vader.
Hierdie keer reageer Filippus. Hy verstaan steeds nie wat Jesus vir hulle probeer sê nie. Filippus vra vir Jesus: Here, wys vir ons die Vader, dan sal ons tevrede wees. Dis eintlik ’n ironiese oomblik. Jesus was nog die heeltyd by hulle. Per implikasie was die Vader nog die heeltyd teenwoordig tussen hulle, deur Jesus, maar Filippus en die ander dissipels het dit nie gesien nie. Hulle het die somtotaal van hoop gerealiseer gehad in hul midde, maar steeds het die Een in wie hulle hoop, vir hulle êrens in ’n onbekende eendag gelê.
Ons bely tereg dat ons ’n toekoms vir ewig by ons Hemelse Vader het, maar mag ons ook op pad bewus wees van ons hoop, Jesus Christus, se teenwoordigheid op hierdie pad.
Ds Steve Oxton, Wapadrant