1 Korintiërs 4 (AFR2020)

Daar is ’n mite wat die rondte doen in ons moderne samelewing: die mite van die selfgemaakte mens. Volgens hierdie mite is alles wat ons het en alles wat ons ooit bereik het, alleenlik deur ons eie toedoen. Daar is talle selfhelpboeke wat ons probeer leer hoe om ’n selfgemaakte mens te word – iemand wat van niemand anders afhanklik is nie. Is hierdie mite enigsins waar, veral in die lewe van ’n volgeling van Jesus Christus?

In 1 Korintiërs 4 spreek Paulus die gemeente in Korinte aan oor hul oordeel oor die apostels. Sommige lidmate van die gemeente kies een leier as hul leier, en oordeel weer die ander leiers van die kerk. Paulus beklemtoon dat die oordeel van mense nie so swaar weeg soos die oordeel van God nie. In 1 Korintiërs 4: 7 waarsku Paulus die lidmate om nie in die strik te trap dat hulle hulself belangriker ag as ander, omdat hulle een leier verkies bo ’n ander nie. Hy sê: Want wie ag jou belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom beroem jy jou daarop asof jy dit nie ontvang het nie? Die woorde wat Paulus hier gebruik, is woorde wat nie net op die lidmate van die gemeente van toepassing is nie, maar ook op die apostels. Die waarskuwing is eenvoudig: Daar bestaan nie so iets soos ’n selfgemaakte mens nie. In die woorde van Koos du Plessis: Wat ek is, is net genade… wat ek het, is net geleen…

As ons eerlik is met onsself, sal ons erken: Alles wat ons het en vermag het, het met baie meer elemente te doen as ons eie harde werk. Dit is inderdaad genade onbeskryflik groot wat aan ons bewys is. Die teenmiddel vir die selfgemaakte-mens-mite, glo ek, is dankbaarheid. Ons kan alleenlik dankbaar wees vir die gawes wat aan ons gegee is, as ons besef dat alles vir ons gegee is, ja, selfs die energie om hard te kan werk. Mag dankbaarheid ons daaglikse houding wees teenoor ons Hemelse Vader.

Ds Steve Oxton, Wapadrant