1 Konings 19

Ek is nie altyd gemaklik met stiltes nie. Ek ry meestal met die motor se radio aangeskakel, of as ek alleen tuis is, moet daar die een of ander wit geruis in die agtergrond aangeskakel wees. Die stilte is soms vir my oorverdowend. Hoekom is daar talle mense – soos ek – wat ongemaklik is met stiltes? Die rede hiervoor mag dalk daarin lê dat ons stiltes met leegtes assosieer, of dat ons stiltes en leegtes met mekaar verwar. Ons dink dikwels dat stiltes ’n niksheid (of dalk selfs ’n afwesigheid) voorstel wat, daarom, nie gemaklik aan ons liggame sit nie. Dit is moontlik hoekom ons stiltes met kunsmatige klanke probeer vul. Hoe gemaak met die stiltes wat ons by die Here naspeur?

Wanneer ons die Bybel lees, kom ons agter dat daar ’n volheid in stiltes verskuil is. Die profeet Elia was doodmoeg gehardloop weg van Isebel af, nadat hy haar Baälpriesters om die lewe gebring het. Hy val doodmoeg neer onder ’n witbesembos en wens dat hy eerder kan omkom. Die Here roep dan vir Elia waar Hy vir hom drie verskynsels wys: ’n geweldige stormwind, ’n baie groot aardbewing, en ’n groot verterende vuur. Elia moes gedink het: Daar is U! Uiteindelik! Ek het so lank gewag dat U Uself bekend maak aan my! Die skrywer wys egter vir ons dat die Here nie in enige van hierdie harde en geweldige natuurverskynsels te vind was nie, maar eerder in ’n sagte gesuis.

Die skrywer van 1 Konings wys dalk vir ons dat stiltes nie noodwendig leegtes (of ’n afwesigheid) in ons lewens is wat deur ons gevul moet word nie. Die verhaal wys vir ons dat daar in stiltes ’n vrugbaarheid is wat alle verstand te bowe gaan. Mag ons onsself oorgee aan die stiltes, want dalk staan ons verras – soos Elia – omdat ons die Here daar ontmoet. Mag ons die vrugbaarheid van stiltes herontdek.

Ds Steve Oxton, Wapadrant