Openbaring 21: 5

Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Die brief in Openbaring is geskryf vir vroeë gelowiges wie se wêreld om hulle besig was om te verkrummel. God se openbaring aan Johannes het hulle gehelp om hul hede uit ’n ander (groter) perspektief te sien. Eerder as die skynbare agteruitgang, wys die Here Johannes hoe die Here in hierdie omstandighede besig is om alles nuut te maak.

In geloof hou ons vandag aan dieselfde belofte vas. Tog oorheers die realiteit van jare wat by ons verbysnel en ook die realiteit dat ons ouer, swakker en meer broos agtergelaat word. Die vinnige pas van voortdurende verandering laat ons skepties vra: Waar gaan dit alles eindig?

Die nuwe groeiseisoen van die natuur wat orals om ons sigbaar is, bring ons in hierdie tyd, soortgelyk aan Johannes se tyd, by ’n openbaring uit. Die lewe wat elke jaar te midde van alles wat gebeur, getrou in die natuur voortspruit, getuig van God se groter realiteit. Alhoewel ons liggaamlik agteruitgaan, word ons innerlik deur God vernuwe. Niks kan dit keer nie. Soos die nuwe plante om ons, dring dit na ons deur in ervarings van vergifnis, dankbaarheid, insig en vrede. Neem tyd om in hierdie dae mooi om jou te kyk en van die seisoen bewus te word. Raak bewus daarvan dat niks God se Gees, wat in jou hierdie selfde lewe bring, kan keer nie.

Gebed

Kom, Skepper-Gees, versterk geloof – ons wêreld is vol brand en roof.

Laat ons u vrede oral stig, ’n vlam wat mense kom verlig.

Kom, Skepper-Gees, skenk ons u krag, vul ons met moed vir elke dag.

Ook wanneer pyn en sorge knaag, sal ons met ywer werk en waag.

Kom, Skepper-Gees, kom by ons bly, dring ons om ons aan God te wy.

Leer U ons om met hoop te sug, ons oë op die Heer gerig. Amen.

(Gesang 433: 2-4)

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos