Psalm 86: 11-13

Leer my u pad Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, u Naam altyd eer, want u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered.

Vandag se teksgedeelte hang nou saam met gister se gedagte. Alhoewel God op ’n groot en dikwels onverstaanbare manier oor ’n groter skepping heers, breek die realiteit van God altyd op ’n eenvoudige en verstaanbare manier tot ons deur. Dit is oor hierdie ervaring dat Psalm 86 getuig en ons van bewus kom maak.

Dink aan die tye toe jy skielik opnuut bewus geword het van die mooi van die natuur om jou. Ons kan almal praat oor die weersomstandighede, die rustigheid van ’n bepaalde omgewing en die voëlgeluide. Die ironie is dat niks merkbaar in die natuur verander wanneer jy so daarvan bewus word nie. Dit was en is vandag nog elke dag daar vir ons om te ervaar en daaruit te leef. Dit verg net van ons om in ’n paar sekondes van elke dag ons bewussyn daaroor te verander sodat die realiteit daarvan vir ons oopbreek.

Psalm 86 bring ons op soortgelyke wyse by die realiteit van God se teenwoordigheid in ons hede uit. ’n Paar sekondes van fokus kan ’n wêreldse verskil maak aan die dag wat vir ons voorlê. Dit begin met hierdie eenvoudige woorde wat in ons loskom:

Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, u Naam altyd eer, want u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered. Amen.

Gebed

Here Jesus, ek is klein, maak U self my lewe rein.

Laat ek altyd van U leer; laat ek grootword tot u eer

O Jesus, neem my, o Jesus, lei my,

o Jesus, sterk my en vorm my tot u eer. Amen.

(Gesang 543: 1)

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos