Lukas 12: 27-28
Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!
Dit is eers wanneer jy tussen die mooiste blomme gaan sit en elkeen in eie reg van nader beskou, dat die wêreld werklik vir jou oopgaan. Toe Jesus die woorde van hierdie teks gespreek het, het Hy die mense van sy dorp Kapernaum teen ’n heuwel opgevat en hulle as’t ware tussen die veldlelies laat sit. Daar tussen die blomme het hulle afgekyk op hul dorp, roetines, uitdagings en werksomstandighede, en skielik met Jesus se woorde ’n ander perspektief daarop gekry. Hulle het diep bewus geword van die Here se sorg vir elke geringe mens wat op sigself ’n skepping van God is. Tussen die massas sien God my raak!
Hoe raak die ervaring van hierdie teks en gedagtes jou waar jy oor jou lewe uitkyk en die blomme en blare steeds uitbundig blom en groei? Of is die vertroue van ’n nuwe seisoen saam met die lenteblomme klaar gebot en vergete?
Gebed
Here, ek weet dat U liefde is, daarom is die liefde vir my die belangrikste in my lewe. Maar, Here, dit is vir ons moeilik om nie te vrees nie. Ek dra vandag in my soveel bekommernisse oor my werk, oor my kinders, oor my ouers, oor myself. Ek is bekommerd oor wat op my wag wat ek nie kan sien nie. Ek vrees die toekoms. Dankie dat U my vandag uit die ritmes van my dag lig om as’t ware tussen die veldlelies te sit en te ontdek hoe kosbaar my lewe vir U is. En daarmee saam ook oorweldig te kan word oor die verskeidenheid mense om my vir wie U ook sorg. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos