Jesaja 43: 16-21
Die verhaal van hoe God vir Israel uit Egipte gered het, was ingeprent in die volksgeheue van Israel. Maar nou is hulle in die woestyn. Hulle word honger en dors. Hulle dink daaraan terug dat God hulle met sy groot krag en magtige dade uit Egipte verlos het, maar nou sit hulle in ’n woestyn en is besig om dood te gaan… God skep ’n toekoms vir Israel van ouds met die Beloofde Land wat voorlê, maar hulle verlang terug na “die goeie ou dae” van die vleispotte van Egipte. So eg menslik…
Die pad wat Jesus saam met sy dissipels gestap het, is ook nie veel anders as die pad van die Israeliete in die woestyn nie: Aanvanklik sien die dissipels al die wonderwerke wat Jesus doen en hulle loof en prys God daarvoor. Hulle reageer nie veel anders as die Israeliete van ouds toe hulle deur die Rietsee getrek het nie – hulle loof en prys God! Maar dan word die dissipels se geloof later gekonfronteer deur moeilikhede langs hul pad, soos Jesus wat vir hulle sê dat Hy aan ’n kruishout gaan sterf en dat hulle hul kruis moet opneem en Hom moet volg. Die kruis wat ’n vooruitsig van verlossing beteken, maar die dissipels verlang ook terug na “die goeie ou dae”. So eg menslik…
Dalk kyk jy na jou eie lewenspad en verlang terug na “die goeie ou dae” toe die lewe anders was, want te veel goed het al op jou woestynpad gebeur. Te veel het die woestynsand van die lewe jou voete gebrand en het jy seergekry. Te veel het jy jou voet teen ’n klip langs die pad gestamp. Te veel het die felle son op jou lewenspad jou seer gebrand, en nou verlang jy ook terug. So eg menslik…
Op Ewigheidsondag terwyl ons dink aan ons geliefdes wat ons vooruitgegaan het en met die kerkjaar wat tot ’n einde kom, hoor ons opnuut: …moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen… (verse 18-19). Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam